Die vier verdagtes wat aangekla is weens die moord op die Paarlse tiener Hashiem Solomon het onlangs in die hooggeregshof voorgekom.
Dylan Adriaanse, Cameron Claasen, Steward Antonie en Romeo Borrins was na bewering op 6 Desember 2019 by ’n massaskietery in Springbokstraat in Chicago betrokke, waarin Solomon (15) noodlottig in die kop getref is.
Nog dertien mense, onder wie ’n vyfjarige kind, is in die skietery gewond.
Die vier beskuldigdes staan tereg op een aanklag van moord, 12 aanklagte van poging tot moord, een aanklag weens die besit van drie ongelisensieerde vuurwapens en een weens die onwettige besit van ammunisie.
Paarl Post het voorheen berig Solomon was veronderstel om in ’n ander moordsaak te getuig en dat dit moontlik die motief vir die moord was. Die seun was ten tyde van sy dood ’n gr. 9-leerder aan New Orleans Sekondêr. Hy en wyle Ernie “Lastig” Solomon, wat glo ’n vermeende 28-bendeleier in die Wes-Kaap was, is familie van mekaar.
Ernie Solomon is in November 2020 in Boksburg doodgeskiet.
Verlede Woensdag (8 Junie) het ’n anonieme staatsgetuie getuig hy het die dag van die voorval in Chicago gesien hoe Claasen en drie ander mans uit ’n wit voertuig klim en na die woonstelle stap, waar Solomon in hul agterplaas saam met familie en vriende gekuier het. Drie van die mans het met semi-outomatiese pistole op die groep mense losgebrand.
Volgens die staat is minstens 16 skote in die dodelike aanval afgevuur.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het voorheen aan Paarl Post gesê: “Inligting wat op die misdaadtoneel gevind is, dui daarop dat die voorval moontlik bendeverwant is.”
Hy het bygevoeg dat die voorval deur die Wes-Kaapse teen-bende-eenheid ondersoek word.. The four suspects charged with the murder of Paarl teenager Hashiem Solomon recently appeared in the High Court.




