Met die maand van liefde om die draai is dit die perfekte tyd om onder die volmaan by Paarlberg asem te skep.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi jou uit na ’n volmaanpiekniek op Saterdag 4 Februarie.
Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek gewy aan die dassie, ’n boorling van Afrika en die Midde-Ooste.
Die dassie is die naaste lewende familielid van die veel groter Afrika-olifant, en sy spysverteringskanaal bevat ’n orgaan wat net in voëls voorkom en in geen ander soogdier nie. Dit is ’n geharde en aanpasbare dier, wat ook ’n belangrike voedselbron vir die San en Khoi was. Die Nama het selfs ’n gedeelte van hul jaar (wat rofweg met Maart ooreenstem) daarna genoem, naamlik !hoa X gais.
Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument besigtig. ’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik vind om 18:30 plaas. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing en tydelike uitstallings te verken; daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.
Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders. Derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.
Toegang kos R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders, en gratis vir kinders onder 6 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za.
Die volgende Volmaanpiekniek is op 4 Maart.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.




