Net as ’n mens dink sy kan nie nóg hoogtes bereik nie, wys Wellington se dowe klimmer, Vicky du Preez, die murg wat in haar pype steek nadat sy in April vanjaar ’n bergroete op die berg Everest voltooi het.
Dit was die langste en verste wat sy nog van die huis af weg was.
Dit volg maar sewe maande nadat sy as lid van ’n groep die yslike berg Kilimandjaro van 5 895 m saam met ’n span dowes uitgeklim het as deel van bewusmaking en geldinsameling vir kinders wat doof gebore is.
Vicky se Everest-avontuur het 12 dae geduur, waarvan altesaam vyf dae alleenlik aan die reis tot by die staptog afgestaan is.
Vir haar was dit ’n senutergende ervaring om net tot die begin van haar ekspedisie te kom.
“Dit was ’n vyf uur lange busrit na Katmandoe, ’n klein mountaineering village in Nepal, Suid-Asië. Van daar is ons na die gevaarlikste lughawe en aanloopbaan ter wêreld, beter bekend as die Lukla-lughawe.”
Die aanloopbaan is maar 527 m lank en 30 m breed met ’n steil 11,7%-gradiënt. Die lughawe se hoogte is 2 845 m bo seespieël.
“Die vlug het maar sowat 15 minute tot by Phakding geduur. Dit was nerve wrecking om in ’n flimsy klein vliegtuigie te sit en op ’n afdraande tot op die hang van daai yslike hoë steiltes af te stuur voordat ’n mens in die lug hang.”
Sy het voorheen aan Paarl Post vertel sy bly ’n sentimentele verlange voel na die belewenis wat sy op Kilimandjaro beleef het. Maar dié keer beskryf sy haar ervaring as “skokkend”.
“Toe ek uit die vliegtuig klim, tref ’n volslae snerpende koue, wat ’n mens se asem wegslaan. En dan volg ’n algehele en oorweldigende realisering in die gesig van die magtige bergreekse voor jou: Jy is daar; jy kan nie nou omdraai nie. Dit is ’n gevoel wat ek nooit sal vergeet nie.”
Haar man, Rossouw, wat as haar tolk dien, vertel hoe Vicky so dankbaar was dat een van die portiere haar gevra het om te wys hoe sy vir die staptog toegerus was.
“Sy trek toe drie lae baadjies en jasse aan, wat ingepak was, maar die koue het regdeur al die lae geslaan. Dit was toe glad nie weerbestand vir daardie uiterste temperature nie. Vicky sê die mense het by een winkel in toue gestaan om behoorlike warmgoed te koop of te huur voordat hulle die amptelike staptog aangedurf het.”
Buiten die skok wat haar petit liggaam moes absorbeer, meen sy dit was ook ’n lieflike en snoesige ervaring waar die klein vallei-dorpies met die oulikste tavernes toegerus is.
“Selfs op die staproete was daar die mooiste slaapgeriewe met ’n klomp komberse, aangesien die slaapsakke wat ons saamgeneem het ook nie warm genoeg vir daardie koue was nie.”
Elke dag se staproete sal die gemiddelde stapper tussen ses en sewe uur neem om te voltooi. Maar met haar ervaring as ’n gesoute klimmer het sy verkies om teen ’n rustige pas te stap wat nege uur geduur het.
“Vicky het besluit om dit rustig te vat ná alles wat sy uit haar Kilimandjaro-ervaring geleer het. Die lugdruk is mos so uiters laag daar dat asemhaling ’n groot uitdaging is,” meen Rossouw.
Haar fokus was pal om tot by berg Everest se basiskamp te vorder. Toe sy daar kom, was dit vir Vicky absoluut verkwikkend. “Die uitsig oor die pieke wat ’n mens omring, was onbeskryflik . . . alles was so oop, helder en vry,” sê sy.
Die berg is bekend vir die kleurvolle vlaggies wat oral te siene is, “maar ’n mens mag glad nie nuwes opknoop nie. Dit word as heilig beskou”.
Wat die oomblik nog meer spesiaal gemaak het, was toe ’n ander stapper op dié hoogte op sy knie afgesak en sy meisie gevra het om te trou.
“Hoewel dit so kosbaar daar bo was, moes Vicky weer kort voor lank terugkeer voordat die son sou sak en die donker koue deur die berge inkruip. Tjoef-tjaf! en toe is Vicky gou weer teen die berg af.”
So ’n gedoente na die hoogste berg ter wêreld kos sowat R60 000 tot R70 000, wat Vicky uit haar eie sak betaal het. Die prys is heeltemal afhanklik van die weersomstandighede, wat soms tot bykomende uitgawes kan bydra en natuurlik van die seisoen afhang.
Vicky se staptog was kort voordat die amptelike Himalaja-winterseisoen sou aanbreek. “Erge sneeustorms het glo twee weke nadat ek daar weg is, uitgesak. Dit was die perfekte tyd om dit aan te durf.
“Ek wil my diepste dankbaarheid aan my mede-klimmer, Tracy Ann Duncan, betoon. Ek het haar aangeraai om saam met my te gaan klim voordat sy ’n gesin wil begin. Tracy is ewig dankbaar vir die ervaring.”
Rossouw het oomblikke waar hy sy vrou in totale verwondering aanskou.
“Sy gaan aan asof daar g’n môre is nie. As Vicky eers ’n ding wil doen, dan doen sy dit en kry klaar.”





