Vergeet van tong-in-die-kies – ons praat nou sommer uit die slaapkamer uit . . .
Dis 2022 en gesprekke rakende seks hoef nie meer taboe te wees nie! Dis veronderstel om gemaklik en informeel te wees – dis dié dat VIA Uit die slaapkamer praat in ’n splinternuwe geselsprogram. Of jy enkellopend is, in ’n verhouding staan of vrae het oor hoe om dáái gesprek met jou kinders te hê, kan jy baie hierby baat én selfs ’n ding of twee leer.
Dr. Elna Rudolph, ’n seksuoloog en mediese dokter, vat voor vat met die gesprekke oor seksuele gesondheid en saam met die res van die paneel gesels oor intimiteit en ander kwessies.
Adri Vivier, wat op die VIA-program Ouma weet mos raad gee, deel nou meer as nét sielkundige raad uit. Adri is ’n oudonderwyser, ma van vier en deeltyds ook ’n akteur. Haar raad bied ligter, dog insiggewende oomblikke, veral wanneer dit by ouerskap kom.
Die sanger en akteur Bianca le Grange bring haar prettige en sê-dit-soos-dit-is-persoonlikheid wat tot baie vermaak lei.
Die akteur en aanbieder Neels van Jaarsveld gee veral raad en insae vanuit ’n manlike perspektief.
Elke week takel die span kykersvrae wat insig gee in iets waaroor die meeste mense nog altyd gewonder het – van mediese kwale rakende seksuele gesondheid en ouers wat raad vra oor seksuele opvoeding tot selfs net raad vir ’n beter sekslewe. Die onderwerpe sluit in menstruasie tydens seks, hoe gemaak met ’n lae libido, voorbehoeding vir tieners, seksspeelgoed vir vroue én mans, vaginale geboorte versus keisersnee . . . dít en nog baie ander interessante onderwerpe word gedek.
“Ek is passievol oor seksuele gesondheid en om die regte inligting te gee, want daar is baie vrae en dikwels min antwoorde,” verduidelik dr. Elna.
“Kykers kan uitsien na lekker uit-die-maag-lag, daardie ongemaklike giggel of veelbetekenende glimlag oor al die verskillende dinge wat ons bespreek.”
- Kykers kan van 6 Julie af elke Woensdag om 21:00 op Uit die slaapkamer inskakel.



