Toerisme in die Drakenstein-gebied bly ’n omstrede onderwerp met verskeie rolspelers wat die munisipaliteit kritiseer oor sy inisiatiewe rakende dié kwessie, en op die onlangse raadsvergadering is die onderwerp wéér deur die VF-Plus geopper.
VF-Plus-mosie
Die sakelys van 26 Julie se raadsvergadering het ’n besprekingspunt bevat wat André Fourie, VF-Plus-raadslid, gelei het, waarin hy die munisipaliteit gedruk het om die toerismesektor in die vallei met meer erns te bevorder.
Volgens Fourie het die VF-Plus ’n mosie by die raad ingedien wat voorstelle bevat het om die toerisme- sektor op koers te kry.
Die mosie is toe na die burgemeesterskomitee verwys, waarna hulle aan die VF-Plus gesê het “alles wat julle [VF-Plus] voorstel [in die mosie], word reeds gedoen” – ’n stelling waarmee Fourie nie saamstem nie, omdat toerisme-inisiatiewe in die vallei steeds ongeorganiseerd vertoon, volgens hom.
Hy voer aan dat die enigste oplossing vir ’n verbeterde toerismelandskap ’n “georganiseerde” strategie is wat “hande vat met verskeie rolspelers, soos wynplase en kulturele organisasies”.
Fourie het gesê die VF-Plus sal die kwessie wéér voor die raad opper, totdat ’n werkbare voorstel vorendag kom.
“Die VF Plus dring aan op ’n beraad van alle moontlike belanghebbendes om ’n evaluasie te doen van toerisme- moontlikhede met die instelling van die een of ander liggaam,” het Fourie gesê.
“Tulbach het ’n verkose toerismeraad, ’n winter-Kersfees, [asook] ’n landbouskou. Stellenbosch het sy jaarlikse Woordfees [en] Franschhoek het sy toerisme-treintjie,” het hy bygevoeg.
“[Die] Drakenstein het die Afrikaanse Taalmonument, maar wat het geword van die kulturele konserte?” vra Fourie.
“[Daar is ’n] legio kulturele erfenis [binne die vallei], om nie eens te praat van die hartland van die Boland se natuur- en wynbedryf nie,” het Fourie gesê en voorbeelde opgenoem.
Tydens die raadsvergadering het Stephan Korabie, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, ook genoem dat Wellington in die proses is om sy eie toerismekantoor te open en volgens Seraj Johaar, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, is dié planne in die “ontwikkelingsfase”.
Drakenstein as ’n handelstad
Gedurende 2020 het die Drakenstein-munisipaliteit homself benoem as “Fair Trade City” oftewel handelstad, wat beteken dat die munisipaliteit hom bemark as ’n “stad van uitnemendheid” wat gebruik maak van “billike arbeidspraktyke en omgewingsvriendelike etiese produksieprosesse”.
Dít is volgens die sakelys van 26 Julie s raadsvergadering.
Dié benoeming is veronderstel om te dien as ’n toerisme-inisiatief wat mense na die vallei lok om die etiese produksieprosesse waar te neem.
Volgens Johaar bevorder dié benoeming toerisme in die vallei omdat dit “toeriste lok wat belangstel in die ondersteuning van billike handel en etiese verbruik”.
“Volgens ’n neigingstudie wat deur die Vereniging van Suid-Afrikaanse Reisagente (Asata) gedoen is, is toeriste meer gefokus op volhoubaarheidsverblyf [en] in ’n artikel deur Luke Daniel (November 2022) het Otto de Vries, die uitvoerende hoof van Asata, gesê ‘wanneer dit kom by die bevestiging van reis, is volhoubaarheidspogings en inisiatiewe dikwels ’n groot deurslaggewende faktor vir baie kliënte’,” volgens Johaar.
Die munisipaliteit sal ook Afrika se eerste Fair Trade Cities and Towns International Conference van 20 tot 22 September op die Nederburg-wynlandgoed in die Paarl aanbied, wat hul implementering as ’n “handelstad” sal bespreek en die verskeie “maatskaplik-ekonomies volhoubare projekte en inisiatiewe” ten toon stel.
Die pad vorentoe
Die vraag bly immers steeds: Watter ander inisiatiewe word deur die munisipaliteit beplan om toerisme in die Drakenstein – ’n taamlik vergete gebied binne die breër wynlanddistrik – te bevorder?
Daar was lig aan die einde van die tonnel met die De Poort-sage toe die munisipaliteit in Maart verlede jaar ’n tender toegestaan het aan The Kinesis Group (Pty) Ltd om die grond virR31 587,50 wat ’n toerisme-inisiatief van stapel sou stuur, te verhuur.
Maar, meer as ’n jaar later het bouwerk op die amper 40 000 m² nog nie begin nie.
Volgens Johaar sal De Poort heropen sodra ’n “eksterne ontwikkelaar fase een van die ontwikkeling voltooi het”.
“Die datum sal gekommunikeer word sodra die ontwikkelaar die voltooiingsdatum bevestig het,” het hy bygevoeg.
Ander toerisme-inisiatiewe, buiten die volhoubare toerismeroete wat in Mei vanjaar by die Plaisir-wynplaas bekendgestel is, sluit in die heropening van besoekersinligtingsentrums, die aanstelling van ’n diensverskaffer om bestemmingsbemarkingsdienste te verskaf, gebeurtenisondersteuning van sporttoerismegeleenthede en die vestiging van ’n toerisme-ontwikkelingsforum.




