Veselinternet word ná ’n lang gewag uiteindelik in verskeie woonbuurte in Paarl-Oos aangebring.
Volgens Louis Pienaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, is veselinternet, bekend as fibre in Engels, nie ’n munisipale diens nie en daarom adverteer Drakenstein-munisipaliteit nie tenders daarvoor nie.
“Veselinternet word ingevolge die Telekommunikasiewet ná ’n goedkeuringsproses deur die munisipaliteit, deur private maatskappye geïnstalleer. Die maatskappy wat die vesel in die genoemde gebied installeer is Octotel.
“Octotel het op 22 Julie 2024 begin met sy werk en is tans met die hoofveselpyplynvoerder besig. Daarna sal nog ses fases geïnstalleer word. Drakenstein-munisipaliteit gee goedkeuring vir een fase op ’n slag. Sodra die fase 80% voltooi is, sal die volgende fase begin (fase 1 tot 6). Octotel sal vir die munisipaliteit ’n aangepaste konstruksieprogram verskaf wanneer die posisies van die bestaande munisipale dienste uitgewys is en die roetes gefinaliseer is.”
Pienaar wys uit dat die volgende strate in Paarl-Oos vir die volgende paar weke geraak sal word: Van der Stelstraat, Magnoliastraat, Poinsettiastraat, Lantanastraat, Solomonsstraat, Klein Drakensteinweg, Amstelhoflaan, Lloydstraat en Fisantstraat (vir die hoofveselvoerder). Hy voeg by fase 1-werke sal daarna in die Mountain View-gebied en Amstelhof geskied.
“Drakenstein-munisipaliteit vereis dat die kontrakteur die gemeenskappe in die geraakte gebiede in kennis moet stel oor die vesel wat geïnstalleer gaan word deur briewe aan die eienaars van die eiendomme te gee. Die kontrakteur moet voldoen aan alle wetlike verpligtinge rakende beroepsgesondheid, beroepsveiligheid en konstruksie-regulasies.
“Daar is ook op 2 Augustus ’n vergadering met die kontrakteur gehou oor leerders en voetgangers se veiligheid, en die skoonmaak van die gebiede waar hulle werk. Die munisipaliteit het hulle verder ook versoek om die wyksraadslede in kennis te stel oor die veselinternet-werke.”
Pienaar het enige verdere navrae na Octotel verwys.
. Kontak Octotel by 061 586 5503. Inwoners met klagtes oor die installering waaraan Octotel nie aandag skenk nie, kan hul klagtes rig aan wayleaves@drakenstein.gov.za of die munisipale SeeClickFix-toepassing gebruik.





