Die VF Plus agiteer reeds sedert die 2021- munisipale verkiesing vir ’n behoorlike verstedeliking-strategie om die massamigrasie uit die noorde en ooste en die Wes-Kaapse platteland ordelik te hanteer en te bestuur.

Dieselfde geld vir wetstoepassing, wat nie op peil is in Drakenstein nie.

VF Plus-raadslede het dus ’n afspraak met die stadsbestuurder gemaak – juis omdat ons pogings om hierdie twee brandpunte met die DA- politieke leierskap op te neem, keer op keer in die slag gebly het.

Uiteindelik ’n deurbraak! Ons het op die raadsvergadering op 26 April weer eens die stem oor die twee sake dik gemaak, en toe kondig die stadsbestuurder aan – hy is in die proses om twee aparte direktorate vir verstedeliking en grondsake sowel as een vir wetstoepassing te skep en die organigram van Drakenstein dienooreenkomstig aan te pas.

Dit open die pad vir rasionele insette en debat om die onordelike straat-slapery met die maatskaplike euwels daaraan verbonde – dromkrappery, onwettige plakkery oral in die sentrale sakegebiede van Paarl en Wellington met rommelstrooiing vooraan, rondom Hop-huis projekte en ander ordelike vestigings – te begin oplos.

Dit kan uiteindelik help met ’n behoorlik georganiseerde en gekoördineerde wetstoepassingsmodel op die tafel.

Die VF plus se standpunt oor verstedeliking: 200 konvensionele huise per jaar vir ’n nood van 40 000 is net eenvoudig nie prakties nie en alle geld moet van nasionaal, provinsie en plaaslik eerder gebruik word om grond te koop, waar behoorlike dorpsontwikkeling kan plaasvind – basies met klein-erf- en diens-skemas om as alternatiewe vestiging van onwettige plakkery aan te bied.

Wat wetstoepassing betref, bly die probleem dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens onder nasionaal val slegs met toesig deur die provinsie, maar ’n beter gekoördineerde plan – soos die instelling van die Leap-projek elders – kan sekerlik op die tafel kom om misdaad saam hok te slaan.

Die VF Plus verwelkom die twee aankondigings en ons sal ons deel bydra om dit suksesvol geïmplimenteer te sien.

André Fourie – VF Plus-raadslid,

Drakenstein

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article