Daar is geen maatstaf waaraan die waarde van ’n vrou se omgee en liefde gemeet kan word nie – veral nie vir ’n vrou soos Roseline Simons, wat elke dag getrou staan in haar passie om siekes te versorg nie.
Volgens Simons was dit nooit haar droom om ’n versorger te word nie, maar eers nadat sy tydelik uitgehelp en ingestaan het vir versorgers by die Rusthof-ouetehuis in die Paarl, het sy besef dit is waar haar hart lê.
“Ek is nou amper 15 jaar ’n versorger. My skoonma het eendag vir my gesê hulle soek mense om te kom uithelp by Rusthof-ouetehuis, want van die versorgers is Boontjiesrivier toe om ’n kursus te gaan doen. So, hulle het mense gekort net om uit te help, en dis hoe ek besluit het ek gaan probeer.
“Dit was nie my plan om ’n versorger te word nie, maar ek het die kans gewaag. Alvira Kleinhans, wat in beheer van die ouetehuis is, het toe gesê ek moet begin gemeenskapswerk buite doen. Ons het met mense, wat versorging nodig gehad het, by hul huis gewerk. Ons het TB-medikasie afgegee, wonde versorg, diegene gewas wie se familie nie in staat is om dit te doen nie en die meet van bloeddruk en suikervlakke. Dit van die goed wat ek gedoen het toe ek begin het.”
Voordat Simons haar oë kon uitvee, was sy volstoom in diens as ’n versorger en het later by die Drakenstein- intermediêre sorgfasiliteit, voorheen bekend as Luthando, aangesluit.
“As versorger voel ek baie goed en ’n mens droom net om verder en verder in jou beroep te vorder. ’n Verpleegster met wie ek voorheen saamgewerk het, het altyd gesê ons moet as ’n span saamwerk. So, moenie die versorger minder ag as die suster of die verpleegster nie. Ons is op een vlak, want ons almal neem mekaar se hande.”
Op die oomblik is sy in diens by die Sonstraal-hospitaal in die Paarl. “Ek leer nog baie in die werk wat ek doen. Dit is net awesome, want dit is ’n regte hospitaal; dit is nie meer ’n ouetehuis waar die Here my ingesit het nie. Hier ervaar ek dinge anders as toe ek by die ouetehuis gewerk het. Ons observe baie wanneer dokters hul rondes doen en ons assisteer wanneer ons vir die dokter iets moet bring.”
Om ’n siek mens te versorg, sê Simons, moet uit jou hart kom en jy moet ’n liefde en passie daarvoor hê.
“Elkeen het ’n passie en ek dink ’n mens moet vir die Here vra. Hy het sy gawe vir jou. Hy sê mos ‘vra vir my in my naam en ek sal vir jou gee’. Ek het nooit daaraan gedink om ’n versorger te word nie. Aan die begin was dit nie so lekker nie, want ek was nie gewoond aan bloed nie; ek was nie gewoond aan mense prik vir hul suikervlakke nie. En mense braak en pou. Die werk is nie sommer vir enigeen nie, maar soos ek padlangs gekom het en soos die Here my kom dra en kom wys het, het ek so gewoond geraak. Ek vra kennis en wysheid vir die Here.
“Om iemand te versorg, moet uit jou hart kom en jy moet weet hoe om met die een te praat, want dit kon jou ma gewees het. Dis miskien ’n groot man wat jou pa kon gewees het of dit kan selfs ’n jonger mens of kind wees wat dalk jou broer kon gewees het. Dis vir my belangrik om só iemand te behandel asof hy of sy familie is van jou. Moenie so iemand aankyk en miskien dink, ‘nee, dié een lyk nie so lekker nie; ek gaan nie met hom werk nie’. Dis hoekom ek sê die liefde vir die werk moet uit jou hart uit kom, sodat jy van die eerste sieke tot die laaste sieke jou passie met almal kan uitleef.
“Mense raak lief vir jou terwyl jy met hulle werk, en as jy as versorger huis toe gaan, sê van die pasiënte soms ‘jy moet ’n mooi naweek hê’ en jy voel goed. Jy voel goed dat jy iemand versorg het, hom of haar gewas het of hulle mond skoongemaak het. Só bou mens ’n goeie verstandhouding met die mense en stap julle saam ’n lekker pad.”
Simons meen as daar een ding is waaraan sy nie gewoond kan raak in haar beroep nie, is dit die onvermydelike – die dood.
“Dis altyd hartseer, want jy het gewoond geraak aan die pasiënt en hier is die besig pasiënt aan die sterwe. As versorger moet ons toesien dat die pasiënt gemaklik gemaak word en dat die familie gekontak word. Ek as versorger staan soms daar en partykeer is ek so emosioneel, want die manier hoe die familielid huil, laat jou dit saam met hulle voel. Ek het al my gesig gedraai en gehuil en dit is nie lekker nie. Jy raak so geheg aan pasiënte asof julle familie is.”
Versorgers word soms nie die erkenning gegee wat hulle toekom nie, maar hulle is gewis die onbesonge helde in die gemeenskap.
“Ek wil nog vir jare my passie in dié beroep uitleef, want ek voel ons gemeenskap het ons nodig. Baie huise het nood in sulke gevalle en mense het nie altyd daardie kennis van verpleging en sorg nie. Dis hoekom ek voel dis ’n passie wat die Here vir my gegee het en ek wil dit uitleef tot wanneer die Here besluit of tot wanneer my ouderdom, gesondheid en krag dit toelaat.
“Ek sê altyd wanneer ek na mense omsien, en as ek so met die mammas en pappas praat, die Here moet my toelaat om eendag na my ma en pa om te sien. Jy is bevoorreg om dit te kan doen. ’n Mens moet dit nie as ’n las beskou nie. Ek het al met my susters ook gesels en vir hulle gesê ons gaan mekaar beurte gee. Die Here het my spesifiek op die plek gesit dat ek die oë en ore kan wees.
“Dit is vir my amper soos ’n eye opener. Dit is ’n nood. Dis hoekom ouetehuise daar is. Kinders gaan werk en hulle kan nie na hul familie of ouers omsien nie. Dit is waar ons inkom en ons moet nie gaan vir die geld nie. Geld moet ons hê, en dit is ’n betaling, maar die Here sien wat jy insit en vir jou gemeenskap doen. En dit wat jy insit, gaan jy uitkry. Jy moet ook nie enige verwagtinge hê nie. Die gemeenskap raak net groter en so ook die nood vir versorging. Ons is daar om ander mense te help. Die roeping gaan ek nie los nie.”





