Daar word dikwels verwys na verpleërs as “die vrou met die lamp”, vanweë Florence Nightingale wat as die grondlegger van moderne verpleegkunde beskou word. Daarom juis word Internasionale Dag vir Verpleërs op haar geboortedag gevier.
In die hedendaagse wêreld het ook al hoe meer “mans met die lamp” hierdie beroep betree.
Patrick Hennies is ’n bekende by Mediclinic Paarl en is uiters trots om hierdie beroep al langer as 30 jaar te beoefen.
Patrick is afkomstig van Knysna waar hy in 1982 sy skoolloopbaan voltooi het.
Hy vertel dat hy arm grootgeword het en dus was daar geen geld vir universiteit nie. Ná matriek moes hy noodgedwonge werk soek en hy het vir ’n boukontrakteur begin werk.
Kort hierna doen hulle verbeterings aan die huis van ’n verpleegkundige in Goodwood en sodoende ontdek hy sy toekomstige loopbaan.
“Dié man het aan my voorgestel dat ek by die Conradie-hospitaal gaan aansoek doen vir werk, omdat hulle juis na manne gesoek het om as verpleegkundiges op te lei.”
Hier het Patrick vir ’n maand lange proeftydperk gewerk om eers vas te stel of dit regtig is wat hy wil doen. Die verpleeggogga het wel gebyt en hy het met my opleiding as staf-verpleër begin.
Patrick het vir ’n paar jaar gewerk as staf-verpleër, waarna hy die oorbruggingskursus tot professionele verpleegkundige gedoen het. Daarna het hy die psigiatriekursus deur die Universiteit van Stellenbosch voltooi.
leef jou passie uit
Tussendeur maak hy ’n draai by Beaufort-Wes-hospitaal as staf-verpleër, Nelspoort-rehabilitasiesentrum as psigiatriese verpleër, en terug Kaap toe na die Lentegeur Psigiatriese Hospitaal.
Met sy aptyt vir leer het hy by ’n privaathospitaal gaan werk, waar hy sy passie vir noodverpleging ontdek. Hy leer dus verder en verwerf sy sertifikaat in noodverpleging deur Technikon SA.
As noodverpleër begin sy loopbaan by Mediclinic Stellenbosch waarna hy by Mediclinic Paarl aangesluit het.
Sedertdien het Patrick nooit teruggekyk op sy beroepskeuse nie.
“My ouma het altyd gesê daar is drie plekke waar ’n mens moet gelukkig wees. Eerstens by die huis, tweedens jou kerk en derdens jou werk. Jy moet jou passie uitleef, want ons bring meeste van die tyd daar deur.
“Omdat ek verpleging as ’n roeping en nie as ’n werk beskou nie, geniet ek elke aspek van verpleging. Ek hou daarvan om ander te bedien en te versorg.
“Ek voel net goed as ek in die aande huis toe ry en introspeksie doen en besef dat ek vandag vir iemand iets beteken het – of dit is om vir iemand ’n urinaal aan te bied of ’n persoon wat baie siek is se pyn te verlig, of ’n bekommerde familielid van ’n pasiënt ná trauma gerus te stel.
Raad aan jonger geslag
“Daar is baie hoogtepunte in die beroep, en dis hoofsaaklik wanneer jy iemand se lewe gered het en hulle kom bedank vir jou.”
Patrick sê vir die jonger geslag dat ’n mens sonder opvoeding niks in die lewe kan bereik nie, so dit is van kardinale belang om die regte grondslag te lê.
Hy beskou verpleging as ’n roeping vir jong mans wat hul medemens wil help en sodoende aan ’n produktiewe loopbaan wil bou. Hy raai ook skoliere aan dat indien jy in ’n verpleegkundige rigting wil gaan, jy wiskunde en wetenskappe as vak tot in matriek moet doen. Hy wys daarop dat in verpleging is daar verskeie rigtings wat gevolg kan word.
“In verpleging hanteer ons elke mens holisties en ek moet dikwels optree as ’n vaderfiguur wat hulp verleen, luister na klagtes, probleme oplos en rigting gee wanneer iemand moedeloos is.
“Die kort van alles wat ek vir enige jongman sal sê, is, ‘if you can dream it, you can do it’.
“As jy droom om ’n verpleegkundige te word, kan jy dit word. In verpleging kan jy jou liefde vir jou medemens en jou ambisie en dissipline uitleef. My doelwit in die lewe is om ander te hanteer soos ek hanteer wil word.
“Om ’n verpleegkundige in die noodeenheid te wees moet jy altyd op adrenalien werk, met ander woorde verwag die onverwagte. Jy weet nooit wat of wie by die deur instap nie. Die beste manier van motivering is om te lei deur jou voorbeeld. Gee ook jou liefde vir alles.”





