Dr. Guin Lourens keer ná 34 jaar terug na die US om vir verpleegstudente klas te gee. Foto: Rentia Weber 

Toe die Paarlse dr. Guin Lourens in 1991 haar graad in verpleegkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, sou sy nie kon raai dat sy 34 jaar later na haar alma mater sou terugkeer nie. Lourens het op 3 Maart as dosent by die US se verpleeg- en verloskunde-departement aangesluit.

Guin Lourens in haar verpleeg-uniform by die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg kampus (1988). Foto: Verskaf/ Guin Lourens

“In 1988 was ek in my eerste jaar. Jy moes gekeur word vir BCur [Baccalaureus Curationis] en nét 40 studente is ingeneem. Slegs 15 studente het oorgebly aan die einde van die eerste jaar, want dit was moeiliker as wat mense besef het dit gaan wees. Al 15 van ons het vier jaar later graad gevang,” sê Lourens.

By die diepkant ingegooi

“Ons is dádelik aan die diep kant ingegooi. Ek het daardie eerste oggend in die noodeenheid teen 09:27 al blood and guts gesien en teen 10 uur moes ek ‘n lyk gaan versorg,” vertel Lourens.

“Een van die susters was nogal sadisties met nuwelinge in die beroep en het vir my gesê, ‘Guin, gaan kyk hoe lyk die dood en of jy die punch kan vat’. Ek moes vinnig groot word, want as verpleegster kry ‘n mens daagliks te doen met lewe en dood.”

Guin Lourens as jong verpleegstudent by die Monica koshuis se huisdans, 1988. Foto: Verskaf/ Guin Lourens

Steeds in verpleging, drie dekades later

Lourens het die afgelope 34 jaar as verpleegster gewerk en tussendeur klasgegee by, onder meer, die Kaapse Wynland Distriksraad, Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) en die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

Sy het etlike aanvullende kwalifikasies in haar veld verwerf, insluitend ‘n meestersgraad in tuberkulose- en menslike immuniteitsgebreksvirus-opleiding en ‘n doktorsgraad in openbare gesondheidsbestuur, albei aan die KSUT.

“Ek wou destyds aanvanklik dieetkunde gaan studeer, maar toe het ek gaan job-shadow en toe ek [by die dieetkundedepartement] kom, toe dog ek: o, nee, ek wil nie heeldag voedselvoorskrifte en eetplanne opskryf nie,” vertel Lourens.

Matie, maar Engels

“Ek het uit ‘n Engelse huis gekom, maar moes vinnig leer Afrikaans praat. Al die klasse in Stellenbosch was in Afrikaans en ook my koshuiskamermaat [was Afrikaans], maar gelukkig was die notas en handboeke darem in Engels,” sê Lourens.

Verpleegster Guin Lourens gesels (in Engels) oor haar rol as dosent by Universiteit Stellenbosch. Klankgreep: Rentia Weber

Lourens was in 1988 ‘n eerstejaarstudent in Huis Monica, waar haar ma en ouma ook tydens húl studentedae gewoon het.

Die lof van kollegas

Adri van Niekerk, ‘n oud-kollega, het Lourens in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit ontmoet.

“Ons het saam gewerk as susters by die mobiele klinieke in die Drakensteindistrik. Vir die eerste paar weke was Guin my mentor. Sy het my al die beginsels geleer van distrikswerk,” onthou Van Niekerk.

“Haar werksdinamika en etiek is onverbeterlik, sy is ‘n meester van haar vak.”

Lourens het ook opgetree as toesighouer toe Marilyne Kogels haar meestersgraad in verpleging aangepak het.

Veral met die Engels op akademiese vlak het ek baie gesukkel, en sy het my só baie gehelp om dit op standaard te kry vir ‘n meestersvlak,” sê Kogels.

Die studentekaart van Guin Lourens (née Couldridge) toe sy 34 jaar gelede verpleeg- en verloskunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer het. Foto: Verskaf/ Guin Lourens 
  • Rentia Weber is tans ‘n BA Hons-joernalistiekstudent aan die Universiteit Stellenbsoch en woon in die Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article