Effense verligting vir die verbruiker word vir vandeesmaand by die brandstofpomp verwag.Foto: Argief


Terwyl internasionale produkpryse hoër styg en die rand teen die Amerikaanse dollar swak bly, kan brandstofgebruikers in Suid-Afrika steeds verligting by die pompe verwag wanneer brandstofpryse vir Junie Woensdag (7 Junie) aangepas word.

Die Automobielvereniging (AA) het gesê dalings in die brandstofprys is reeds in die middel van Mei verwag – sowat R1 per liter vir petrol, omtrent R1,30/F vir diesel en nagenoeg 60c/F vir paraffien is destyds voorspel.

Die verswakkende rand teenoor die Amerikaanse dollar, sowel as stygings in internasionale produkpryse, het hierdie verwagtinge egter gekniehalter.

“Op grond van ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (SEF) gaan petrol nou met sowat 70c/F daal, diesel met sowat R1/F, en verligtingsparaffien met sowat 40c/F,” sê die AA.

Die vereniging sê veranderinge aan hierdie data word verwag voordat die formele aankondiging deur die departement van minerale hulpbronne en energie (die DMRE) voor Woensdag se aanpassing gedoen word.

“Stygende rentekoerse plaas enorme druk op reeds verswakte verbruikers in ’n swak ekonomie. Baie mense sukkel om klaar te kom en enige verligting, al is dit hoe gering, sal deur verbruikers verwelkom word. Die voorspelde daling in die prys van diesel is veral welkom aangesien hierdie brandstof verantwoordelik is vir aansienlike insetkoste in alle sektore, wat dikwels aan verbruikers deurgegee word. ’n Verlaging in die prys van hierdie brandstof is dus welkom en tydig,” sluit die AA af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article