Die verhoor van die vermeende fotograaf- verkragter het Vrydag (22 Augustus) in die Paarl-streekhof voortgegaan.
Achmat Alexander, wat van verkragting en ontvoering aangekla is, het vroeg verlede week skuld ontken. Die slagoffer, Leighché Thomas, het verlede week begin om haar getuienis rakende die beweerde dade van Alexander te lewer.
Hy is ‘n bekende fotograaf by wie sy in Desember 2021 ‘n fotosessie bespreek het. Sy was 19 jaar oud. Volgens haar het sy ‘n plek voorgestel waar hulle die foto’s kan neem, maar Alexander het toe glo gesê die foto’s sal beter uitkom as dit naby water en die berge geneem is. Hulle is toe na die Bainskloofpas.
‘n Paar foto’s is geneem en nadat Alexander aangedring het dat sy ‘n alkoholiese drankie drink, wat glo ‘n bedwelmende middel bevat het, is sy na bewering in Alexander se voertuig verkrag.
Daarna het hy, volgens haar getuienis, die fotosessie voortgesit. Toe die fotosessie afgehandel is, het Alexander vir haar kos gekoop, maar sy het dit nooit geëet nie.
Sy onthou nadat hy haar afgelaai het, het sy ‘n taxi huis toe geneem en vir dae geworstel oor wat met haar gebeur het. Sy het uiteindelik moed bymekaarge-
skraap om haar pa te vertel en die saak is onmiddellik by die polisie aangemeld.
Die saak is verlede week twee keer uitgestel omdat Alexander se regsverteenwoordiger siek was.
Die saak is Vrydag weer uitgestel – tot 13 November, wanneer die verhoor voortgesit sal word.





