Die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) in die Paarl het nóg ’n verkragter vir jare weggestuur tronk toe.
Yandisa Booi is onlangs in die Malmesbury-streekshof skuldig bevind vir die verkragting en aanranding van sy voormalige vriendin. Booi het op 18 Januarie 2020 die vrou teen haar wil aangehou op die Morester-plaas in Riebeeck-Kasteel.
Terwyl hy die vrou aangehou het, het hy haar verskeie kere verkrag en ook met ’n piksteel aangerand.
Volgens lt.kol. Sedrick Beziek, speurhoof by die Paarl GKS-kantoor, is Booi 22 jaar direkte tronkstraf opgelê. Hy salueer ook speurkonstabel Elmarco Martiens se deeglike ondersoek van die saak, wat ook daartoe gelei het dat die verdagte se borgtog teengestaan is.
- Beziek beklemtoon dat geen misdaad teen vroue en kinders geduld sal word nie. Hy voeg by dat sy telefoonlyn 021 872 3546 altyd oop is vir die publiek.




