“Elke kind is ’n potensiële spreker. Nie almal is egter redenaars nie.”
So meen Carolina van der Westhuizen, wat in April 2012 die gewilde Podiumpret, voorheen bekend as Kans!vatter, op die been gebring het.
Vandag is Podiumpret landswyd bekend en het dié opleidingskompetisie so gegroei en uitgebrei dat Carolina selfs onlangs ’n Idiomepret-bordspeletjie ontwerp het.
Sy vertel dat sy in 2012 ’n beoordelaar was van ’n bekende kompetisie toe twee seuns, een in gr.10 en een in gr.12, presies dieselfde toespraak in dieselfde lokaal gelewer het.
“Albei is gediskwalifiseer. Ek het besef dat hierdie kinders die toespraak gekoop het, want indien hulle dit self geskryf het, sou dit nie gebeur het nie.”
Carolina vertel dat sy daarna navorsing gedoen en op die skokkende inligting afgekom het dat ouers mense betaal (in daardie stadium R800 per toespraak en nou tot R1 800) om vir hul kinders toesprake te skryf en ook mense betaal om byvoorbeeld opsommings van skoolwerk vir gr. 12-leerders te maak.
Volgens Carolina is haar seun, Nicolaas, se entoesiasme oor redenaars en die verhoog “die vonk wat die vuur aan die brand gesteek het” en is Podiumpret aanvanklik begin om leerders te help om hul eie toesprake te skryf.
“Die eerste kursus wat ons aangebied het – ‘Wees voorbereid vir die onvoorbereid’ – het ons daardie jaar in Pretoria aangebied. Kinders het van oor die hele land gestroom om dit by te woon,” vertel sy.
“In 2013 het ons die eerste kompetisie in Pretoria gehou.”
Volgens Carolina is nog ’n kursus daarna ontwikkel waarin leerders kan leer hoe om hul toespraak met selfvertroue aan te bied.
Toe Carolina en haar gesin aan die begin van 2015 na die Paarl verhuis het, is talle kursusse by verskeie skole in die Wes-Kaap aangebied, waarna die eerste kompetisie in 2016 hier gehou is.
Volgens Carolina het die kompetisie in 2017 ’n naamsverandering ondergaan en staan dit sedertdien as Podiumpret bekend.
Kort voor lank was daar ook ’n afdeling vir lees, asook ’n afdeling vir redenaars om as ’n span deel te neem.
In 2018 is die eerste nasionale Podiumpret-kompetisie gehou met altesaam 134 deelnemers.
Vanjaar word die sesde nasionale kompetisie aangebied.
Volgens Carolina het Podiumpret ook weer lewe geblaas in die kuns om ’n storie te vertel.
“In 2020 is die derde nasionale kompetisie aangebied, maar vir die eerste keer aanlyn. Covid-19 het tot gevolg gehad dat groot kompetisies gekanselleer is.
“Danksy goeie stelselbestuur slaag ons egter daarin om sprekers per video te laat deelneem. Inderhaas is riglyne neergelê sodat kinders se opnames voldoen aan die standaarde vir klankopnames.”
Sedertdien kan deelnemers aanlyn of in lewende lywe aan die kompetisie deelneem.
Die verskillende kursusse wat Podiumpret aanbied, sluit in die skryf en aanbied van ’n redenaarstoespraak; die skryf en aanbied van die onvoorbereide toespraak; die skryf en aanbied van geleentheidstoesprake; redenaarsafrigting – afrigting is pret; beoordeling by redenaarskompetisies; die kuns van storievertel; boekvoorlesing – vir ’n gehoor en op die radio; asook die aanbied van spanredenaars.
Volgens Carolina geniet sy dit die meeste om te sien hoe elke kind wat deel is van Podiumpret groei.
“Ek is intensief as beoordelaar betrokke by die eerste ronde en ontmoet elke jaar die kinders in die wegspringblokke.
“Sommige begin elke jaar heel voor, terwyl ander aangaan waar hulle die vorige jaar opgehou het. Laasgenoemde is natuurlik die meer suksesvolle pad om te loop. Om dan te sien hoe elkeen werk en/of houtgerus wag vir die volgende ronde en wat dit oplewer in die eindronde.
“Ek glimlag as ’n hele graadgroep wat verskeie wenners in ander kompetisies opgelewer het, uitgestof word deur ’n beginner-spreker wat hard gewerk het en sy toespraak met soveel oortuiging lewer dat hy die daaropvolgende jaar in sy toespraak homself as die hoofseun van sy skool identifiseer.”
Sy vertel sy is ook trots wanneer sy hoor van sprekers wat ’n verskil maak in hul gemeenskappe en was verheug toe sy hoor dat ’n gr. 11-leerder ’n aanbieder van sy eie program op ’n plaaslike radiostasie is.
Die nuutste toevoeging, Idiomepret, kry ook sy oorsprong vanuit Podiumpret.
Carolina vertel in 2019, as deel van die spanredenaars se eerste ronde-beoordeling, is hulle uitgedaag om soveel idiome moontlik in hul toesprake te gebruik.
“Die rekord daardie jaar was 36 idiome en spreekwoorde in ’n 10 minute lange toespraak.”
Dit is toe dat die idee van Idiomepret by haar geprikkel is.
“Die groot probleem was om ’n uitgewer te kry, maar verlede jaar het Lig in Duisternis-uitgewers betrokke geraak.”
Idiomepret bestaan uit ’n bordspeletjie met 144 idiome wat bekende, onbekende en selfs streeksidiome insluit met die idiome en hul betekenisse op elke kaartjie.
“Idiomepret is meer as ’n speletjie. Dis ’n spesiale gom wat gesinne, vriende, klasmaats aan mekaar kan vasmaak. Dit prikkel die lagspiere van oud en jonk.
“My wens is dat elke huisgesin in die Paarl gereeld Idiomepret-aande sal hou. Op hierdie manier sal idiome weer deel word van ons alledaagse gesprekke.
“Baie van ons glo ons gebruik idiome op ’n gereelde basis, maar as jy weet daar is 8 000 spreekwoorde en idiome in ons taal, weet jy ook dat jy net-net die puntjie van die ysberg gebruik.”
Plaaslik is Idiomepret beskikbaar by Carolina, die Afrikaanse Taalmonument en by Dot Pastries.
Binnekort sal dit ook by alle PNA skryfbehoeftewinkels in die Wes-Kaap te koop wees.
Vir meer besonderhede besoek Podiumpret.co.za of kontak Carolina van der Westhuizen by carolina@podiumpret.co.za of by 083 415 9083.





