‘n Splinternuwe heining sal binnekort opgerig word by die Daljosafat-verkeersentrum in die Paarl. Foto: Heleen Rossouw


Die heining wat die perseel van die Daljosafat-verkeersentrum in die Paarl omring, is heeltemal deur die Drakenstein-munisipaliteit verwyder.

Inwoners wonder nou wanneer ’n nuwe heining opgerig sal word en hoeveel dit belastingbetalers sal kos.

Louis Pienaar, Drakenstein se waarnemende direkteur van ingenieursdienste, het by navraag aan Paarl Post gesê die munisipaliteit is tans besig om die projek wat die beveiliging en opgradering van die verkeersentrum behels, te bestuur.

Dit oorhoofse koste van die projek beloop ongeveer R1,4 miljoen.

“Hierdie projek het ontstaan na afloop van die transitoroof wat verlede jaar by dié sentrum plaasgevind het.”

Die Daljosafat-verkeersentrum is op 18 Oktober 2022 deur drie gewapende mans geteiken. Die verdagtes het in die proses weggekom met R43 240 en die vuurwapens van transitowagte wat ’n geldsak by die sentrum opgelaai het.

’n Anonieme ooggetuie wat die voorval aanskou het, het aan Paarl Post gesê: “Ek het geen onraad vermoed nie. Nadat die een wag reeds die geldsak in die agterste kantoor ontvang het, het twee van die verdagtes uit die bloute die wag oorweldig, teen die grond vasgedruk en sy wapen afgevat.”

AO Nceba Vanqa, woordvoerder van die Mbekweni-polisie, het kort ná die voorval bevestig dat die verdagtes se voertuig ná die tyd in Mbekweni opgespoor is.

Volgens Pienaar sal daar binnekort ’n soliede muur reg rondom die sentrum opgerig word. Verskeie kringtelevisie- kameras sal ook aangebring word wat die toegang na die sentrum sal monitor. ’n Elektroniese hek, paniekseinknoppies, koeëlvaste vensters asook ’n toegangsbeheerpunt sal geïnstalleer word.

Pienaar voeg by dat die munisipaliteit ook in Januarie vanjaar met geen-kontant transaksies by die verkeersentrum begin het.

“As sodanig word moontlike veiligheidsrisiko’s by die verkeersentrum nou drasties verminder.”

  • The fence surrounding the site of the Dal Josaphat traffic centre in Paarl has been completely removed. Drakenstein Municipality says a new fence and other security measures will be installed after the cash in transit robbery at the centre last year in December.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article