“’n Krisis!”
Dít is hoe motorhandelaars, lisensie-hernuwings-agente (runners) en Jan Publiek voel oor die stand van sake by die Daljosafat-verkeersentrum.
En ten spyte van talle klagtes hieroor oor die afgelope jare, bly dinge by die verkeersdepartement chaoties.
Deurlopende klagtes sluit in die lang ure wat die publiek moet wag om hier geholpe te raak, en ná ure se gewag word hulle soms met leë hande huis toe gestuur. Klagtes gaan ook oor rekenaarstelsels wat gedurig sukkel, ’n tekort aan personeel en klerke wat onbeskof is jeens die publiek – soveel so dat gereelde besoekers aan die sentrum meen die klerke regeer die sentrum eerder as die bestuurder.
Vrydag het gemoedere behoorlik hoog geloop toe nie ’n enkele besoeker by die sentrum gehelp is nie aangesien die rekenaarstelsel buite werking was. Volgens ooggetuies op die dag het die kantoorpersoneel selfs onder mekaar handgemeen geraak hieroor.
Een “runner”, wat al jare lank elke dag die sentrum gebruik, het vandeesweek aan Paarl Post gesê die situasie by Daljosafat het nou kookpunt bereik. Hy het gevra dat sy naam weerhou word uit vrees vir viktimisering.
“Die sentrum is veronderstel om om 07:45 te open, maar dikwels word die publiek eers van 08:15 af bedien omdat die klerke eers koffie drink en met mekaar gesels. Dan is die rye reeds baie lank. Dikwels is vir die eerste ruk net een klerk aan diens.
“Ons spandeer letterlik dae lank hier om ’n lisensie te hernu en kry dan nie eens al ons werk op datum nie. Ons kon voorheen vyf lisensies op ’n keer hernu – nou laat hulle ons net toe om een op ’n keer te doen. Ons lewer ’n noodsaaklike diens aan die publiek wat nie heeldag tyd het om vir ure in ’n ry te kom staan nie.
“Omdat daar so te sê geen openbare vervoer is nie, maak gewone mense op ’n eie motor staat om werk toe te gaan. Dit behoort ’n basiese mensereg te wees om jou motor- en bestuurderslisensie vinnig en eenvoudig te kan hernu.”
Die “runner” voeg by dit is kommerwekkend dat klerke – veral een vrou – gereeld baie onbeskof met die publiek is.
Hy het ook gesê vertragings word dikwels toegeskryf aan ’n agterstand veroorsaak deur sogenaamde Covid- sluitings.
“Maar toe die pandemie se uitdagings op sy ergste was, het verkeersafdelings in ander dorpe soos Bellville, Kraaifontein en Strand Saterdae en Sondae hul deure geopen om hierdie agterstande in te haal.
“Talle van ons het al by senior munisipale amptenare hieroor gekla, maar hulle gee glad nie gehoor aan die publiek [se klagtes] nie.
“En om dinge te vererger, het die apparaat wat gebruik word om bestuurderslisensiekaarte vir die hele land te druk, ook die afgelope maande onklaar geraak en geen rybewyse kon uitgereik word nie.”
By navraag oor die situasie by die Daljosafat-verkeersentrum het Gerald Esau, direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, gesê Vrydag se probleme kan toegeskryf word aan twee van die rekenaars van die nasionale elektroniese administrasie se vervoer-inligtingstelsel (NaTIS) wat by twee geleenthede – op 3 en 5 Januarie – buite werking was.
“Die NaTIS-rekenaar by die Drakenstein-munisipaliteit se voertuigtoetsstasie het egter deurgaans gewerk, en die munisipaliteit kon dus steeds mense help met die hernuwing van hul voertuiglisensies,” het Esau verduidelik.
“Senior verkeerspersoneel het die publiek by albei geleenthede persoonlik ingelig rakende die probleme wat ondervind word. Probleme is landwyd op 7 Januarie met die NaTIS-stesel ondervind en mense kon nie hul voertuiglisensies hernu nie. Dié probleem is egter later daardie dag opgelos.”
Hy het beklemtoon hulle het egter geen beheer oor die druk van bestuurderslisensiekaarte nie; dit is die verantwoordelikheid van die nasionale departement van vervoer.
In Drakenstein is alle aansoeke sedert Oktober 2021 nog uitstaande. Intussen word motoriste gevra om vir tydelike rybewyse aansoek te doen.
* The public’s woes about poor service delivery at the Dal Josaphat Traffic Department continue because of huge backlogs and yet again delays.




