Ek sal nou eerder nie uitwei oor die haglike toestand waarin die Paarl en Wellington is nie, maar wat wel baie kommerwekkend is, is die algehele gebrek aan wetstoepassing reg deur die vallei.
Ek ry vyf dae per week Wellington toe en dit raak al hoe gevaarliker. Motoriste ry net mooi soos hulle wil en dit is veral die taxibestuurders wat chaos saai. Dit is nou regtigwaar asof hulle net doen wat hulle wil.
Die rede hiervoor is ’n gebrek aan wetstoepassing. Nie net ry hulle teen geweldige hoë spoed nie – en dit boonop met passasiers wat soos sardientjies in hul voertuie gepak is – maar deesdae beteken ’n rooi verkeerslig vir hulle juis “voet in die hoek”.
Vandeesweek ook moes ek Paarl- middedorp toe ry voor my vertrek na Wellington. Ai, eintlik het ek nie woorde nie.
By die kruising van Lady Greystraat en die Boulevard, wat ’n baie groot kruising is, steur hulle hulle glad nie aan die verkeersligte nie. Ek het met my eie oë gesien hoe ’n taxi uit die rigting van Jan van Riebeeckstraat in Lady Grey op jaag en oor die rooi verkeerslig hier ry sodat motors in die Boulevard, wat toe reg van toegang gehad het, hard rem moes trap om ’n botsing te vermy.
Hoër op in Lady Greystraat ry die taxi’s ook suiwer oor die rooi verkeerslig, sonder om hoegenaamd te huiwer – daar waar die ou Edgars- gebou is. Ek het drie van hulle getel binne net 30 sekondes. Hoe lyk dit dan nie heeldag nie?
En nêrens sien ek in hierdie spitstye ’n verkeersbeampte nie – behalwe aan diens vir puntbeheer by skole.
Nou vra ek met trane in my oë – is dit die werk van ’n verkeersbeampte om net ’n puntbeheer-aanwyser te wees?
Nadat ek onlangs in Paarl Post gelees het watse lekker salarisse hulle kry, om nie te praat van hul stewige voordele ook nie, sou ’n mens dink verkeersbeamptes in die Paarl word beter bestuur om die werk te doen waarvoor hulle eintlik aangestel is.
Het ons nuwe burgemeester, wat so spog dat hy ’n “hands-on”-bestuurder is, al in die dorp rondgery en self gaan kyk na die wetteloosheid op die paaie?



