Ek gaan tien teen een nou ’n blik wurms oopmaak met die volgende vraag: Wat gaan aan in Paarl m.b.t. huurplekke?

Die probleem wat ek, ’n jare lange woonplek-soeker, het, is dat, eerstens, die meeste beskikbare plekke haas onbekostigbaar is (uiters basiese, enkel- woonstelle begin by R8 000/maand), veral as ’n mens na Paarl-salarisse kyk.

Tweedens, daar word dikwels ’n twee- tot drie-maande-deposito saam met die huur vooruit gesoek. Wie het deesdae sowat R20 000 wat net rondlê?

Derdens, baie verhuurders is geweldig voorskriftelik: geen diere, geen kinders, geen rokers, geen drinkers . . . blah-blah-blah. Die geen-rook en “nugter (sober) gewoontes” kan ek nog verstaan, maar ek wonder: die meeste mense het kinders of diere of albei – wat maak ’n mens met jou kinders en/of diere as jy nie diervriendelike, kindervriendelike verblyf kan kry nie? Prop jy jou kinders in die weeshuis of stuur jy hulle na familie toe en gooi jy jou diere weg?

Net ’n nota aan verhuurders: nie almal se kinders en diere skop gate in deure en mure, verniel tuine, bemors matte en vloere nie. Sommige mense se diere het beter maniere as sommige grootmense, mag ek dit net byvoeg!

Baiekeer is dit wat aangebied word belaglik vir die prys wat gevra word. Byvoorbeeld, onlangs het ek na ’n plek gaan kyk waar die werf en vullisdrom gedeel word met die ander bewoners; ’n ander “woonstel” se onderverdeling was weer sub-standaard (niks meer as ’n toegeplakte skuifdeur tussen twee “wooneenhede” nie), maar die prys is R8 500/maand.

Sommige wooneenhede is doodeenvoudig net vervalle en onveilig. G’n wonder mense word daartoe gedwing om in kompleks-saamgestelde gesinne in hokke in mense se agterplase te bly nie.

En dan . . . die eiendomsagente. O genade! ’n Mens sou dink dat eiendomsagente die waarde van deurlopende huurkontrakte sou insien, maar myns insiens gaan dit só goed in hierdie dorpie dat daar maar na huureiendomme as ’n soort side-hustle gekyk word.

Regtigwaar, iemand moet die situasie met die verhuring van eiendom in Paarl verbeter.


Woonplek-soeker,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article