Die vermeende reeksmoordenaar van Wellington, Johan Williams, het Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.
Williams word daarvan beskuldig dat hy drie vroue, Chantell Matthysen (21), Maria Isaacs (35) en Natalie Jonkers (35) na sy houthuis in Newton in Wellington gelok, verkrag en vermoor het, waarna hy hul lyke begrawe het.
Volgens die polisie het die beskuldigde sy slagoffers uitgekies, hul vertroue gewen en ook gratis laat ry in sy taxi, asook voorgegee het dat hy vir hulle werk sou kon vind.
In 2018 is hy deur die Wellington-speurtak aangekeer ná die verdwyning van die derde slagoffer, Chantell Matthysen, wie se ouers onraad vermoed het toe hulle ’n vreemde boodskap van Matthysen ontvang, wat hulle laat vermoed het nie deur hul dogter gestuur is nie.
Matthysen, wat van Kuilsrivier afkomstig is, se ma het na haar op ’n plaas in Wellington gaan soek waar sy glo gewerk het, maar niemand het haar daar geken nie. Sy is toe as vermis aangemeld.
Ná ondervraging deur die polisie het Williams die plekke uitgewys waar hy sy slagoffers in vlak grafte begrawe het.
Williams het ook in 2018 in die Wellington-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer van sy voormalige vriendin. Hy het na bewering sy vriendin herhaaldelik met ’n skerp voorwerp in haar rug gesteek. Williams se verhoor sal op 23 Mei begin.
. The trial involving alleged serial killer of Wellington, Johan Williams, will start on 23 May in the Western Cape High Court.
In 2018 Williams was accused of murdering and raping three women and then burying them in shallow graves, which he pointed out to the police.
– Samuel Walters




