Dis ’n donker week vir die ekonomie met weer eens ’n verwagte reusestyging in die petrolprys asook rentekoerse.

Die onderverhaling op die brandstofprys het vandeesweek deur die R2 per liter gebreek te midde van die verswakkende rand en stygende oliepryse.

Hoewel die oorsigmaand vir Junie se brandstofpryse nog 10 dae duur, is daar nou die vooruitsig dat die petrolprys met meer as R3,50 per liter gaan styg en diesel met meer as R3 per liter.

Só ’n styging in die dieselprys sal boere swaar tref, maar ook verbruikers omdat dit die koste van alle produkte sal beïnvloed aangesien die meeste verbruikersgoedere per pad vervoer word.

Die stygings sal hoog wees, selfs as die regering die verligting op die brandstofheffing van R1,50 per liter, wat vir April en Mei ingestel is, verleng.

En beleggers verwag die Reserwebank gaan vandag (Donderdag 19 Mei) die grootste rentekoers­verhoging sedert Januarie 2016 aankondig.

Volgens Jeffrey Schultz, ekonoom van BNP Paribas, word ’n rentekoersverhoging van 50 basispunte verwag. Dit gaan die repokoers tot 4,75% verhoog.

BNP Paribas se vooruitsig vir die rentekoers aan die einde van die jaar is bo die konsensus op 5,75% en boonop glo dié belegger dit gaan middel 2023 op 6,5% wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article