Paarl Post het die afgelope paar maande verskeie klagtes oor die Drakenstein-munisipaliteit wat hoofsaaklik in Engels kommunikeer, ontvang.

Op die munisipaliteit se Facebook-blad en op sy webtuiste word slegs in Engels gekommunikeer, hetsy dit kennisgewings is of nuus oor verwikkelinge in die dorp.

In verlede week se Paarl Post het André Fourie, ’n raadslid van die VF Plus, ’n brief geskryf oor sy ongelukkigheid dat Engels as voorkeurtaal op raadsvergaderings gebruik word. Fourie sê 70% van die inwoners in Drakenstein is Afrikaanssprekend.

Die Speaker van die raad, Koos le Roux (raadsheer), het in reaksie op Fourie se brief gesê die munisipale raad erken amptelik Afrikaans, Engels en Xhosa as tale met gelyke status in die raadsaal en elke raadslid kan die raad toespreek in die taal van sy/haar keuse.

“Die raad beskik oor die dienste van tolke, klanktoerusting, oorfone en klankdigte tolkkamers en derhalwe word alle raadsvergaderings met ’n volledige tolkdiens in die drie vermelde tale hanteer.

“Verder het die Speakers van die raad nog altyd elke tweede raadsvergadering in Afrikaans hanteer, behalwe in die Covid-19-tydperk waar ’n regulatoriese beperking op 50%-sitplekaanwending by vergaderings in die Paarl Burgersentrum-raadsaal gegeld het.”

Gedurende dié tydperk moes raadsvergaderings in die Paarl-stadsaal, die Hugenote-gemeenskapsaal asook virtueel gehou word.

“As Speaker het ek die eerste raadsvergadering ná die opheffing van die Covid-19-regulasies op 30 Junie 2022 volledig in Afrikaans hanteer en sal voortgaan met die gebruik van Afrikaans in elke tweede raadsvergadering.”

Volgens Fourie het Le Roux dié aankondiging wel op die onlangse raadsvergadering gedoen.

“Skielik skuil hy en die DA agter covid met die verskoning vir die afskeep van Afrikaans omdat raadsvergaderings in die stadsaal en ander gemeenskapsale gehou moes word en daar nie tolkgeriewe was nie. Dis die eerste keer dat hierdie verskoning opduik,” het Fourie gesê.

Volgens Seraj Johaar, uitvoerende direkteur van korporatiewe-dienste by die munisipaliteit, het die munisipaliteit weens praktiese redes en om niemand uit te sluit nie, op Engels as hoofvoertaal besluit. “Dít is ook die geval by die meeste ander munisipaliteite en staatsinstansies in Suid-Afrika. Die hou van vergaderings en die beskikbaarstelling van dokumente en ander vorms van kommunikasie in Afrikaans sou beteken mense sou uitgesluit word. Om alle dokumente en kommunikasie in drie tale te doen, sou onprakties wees en hulpbronne verg waaroor die munisipaliteit nie tans beskik nie, asook die gelyktydige beskikbaarstelling van inligting moontlik vertraag. Vergaderings van die burgemeesterskomitee, portefeuljekomitees en die munisipale bestuur word in die taal gehou wat alle deelnemers kan verstaan – uit hoflikheid en om almal te akkommodeer. In die meeste gevalle is dié taal Afrikaans.”

Johaar sê wat die sakelys vir raadsvergadering betref, word aanbevelings in Engels, Afrikaans en Xhosa (waar moontlik) aangedui terwyl sakelys-items, agtergrondinligting en besprekings in Engels is.

Hy sê die volledige sakelys was sedert 2000 nog nooit in al drie tale beskikbaar nie.

“By raadsvergaderings volg die Drakenstein-munisipaliteit dieselfde stelsel as in die Parlement waar raadslede in die taal van hul keuse (Afrikaans, Engels of Xhosa) kan praat en dit onmiddellik getolk word, behalwe tydens die Covid-19-grendeltydperk toe die meeste raadsvergaderings virtueel via Microsoft Teams plaasgevind het en ’n tolkdiens nie moontlik was nie.”

Johaar het ook gesê ’n volledige tolkstelsel (met klankdigte vertaalkamers, mikrofoonstelsels en oorfone vir alle raadslede) sou nie in die Paarl-stadsaal en die Huguenote-gemeenskapsaal prakties moontlik gewees het nie.

“Derhalwe het die Speaker die raadslede se verlof gevra om die raadsvergaderings in Engels te hanteer en ’n tolkdiens op versoek aan te bied.”

Hy sê egter wanneer die raad versoeke vir ’n tolkdiens ontvang het, is van die munisipaliteit se drietalige tolk gebruik gemaak, waar moontlik.

“Die Drakenstein-munisipaliteit poog egter om te alle tye en in alle bedrywighede die taalvoorkeur van ons inwoners in ag te neem. Inwoners is daarop geregtig om Afrikaans, Engels of Xhosa te gebruik om met die munisipaliteit te skakel.”

Volgens Johaar sal die munisipaliteit, sover dit prakties moontlik is ’n tolk beskikbaar stel indien nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article