’n Skrander seun het Sondag verdrink nadat hy en vriende in ’n dam aan die voet van die Du Toitskloofpas geswem het.

Herschel Anderson, ’n gr. 6-leerder aan die Laerskool Paulus Joubert, en vriende van hom het Sondag glo lafenis gesoek toe dit so warm was. Volgens sy suster Gita Lewis het Herschel gesê hy gaan ’n entjie saam met sy honde en vriende stap.

“Hy het nie gesê hy gaan swem nie. Dit was Sondag warm en toe het hulle seker besluit hulle gaan gou swem. Hy was ’n kind wat lief was vir die water en swem.”

Die Lewis-familie is Sondagmiddag om 12:00 die hartseer nuus meegedeel. Sy suster beskryf die 13-jarige as ’n “liefdevolle kind” en iemand wat altyd vol grappies was en iets te sê gehad het. Sy voeg by hy was ook baie lief om speletjies te speel.

“Ons was te bang om hom ’n nuwe speletjie te leer, want dan moes ons dit heeldag met hom speel. Hy het ook nooit geglo aan verloor op die domino-tafel nie. Hy het ’n klomp vriende gehad. Hy was nou regtigwaar ’n mense-mens.”

Lewis se ouers, Carl en Gerty Lewis, het Herschel ingeneem toe hy net agt maande oud was. Dit is duidelik dat hulle baie lief was vir hom.

“Sy suster [Inge], met wie hy ’n kamer gedeel het, en sy grootmaak-ma is baie hartseer. Sy grootmaak-pa het ook gesê sy hart is seer. Dit vat hulle ’n bietjie diep,” vertel Lewis.

Herschel se gr. 3-onderwyser, Leone Martin, beskryf hom as ’n uitstekende kunstenaar en sê sy dood is ’n groot skok. Sy vertel dat hy diep in baie mense se harte gekruip het.

“Hy het so mooi geteken. Hy was regtig lief om dit te doen. Dis hartseer – hy was een van daardie kinders wat almal geken het. Almal het geweet wie hy was.”

Martin lag voordat sy verder byvoeg: “[Hy was] ’n bietjie pestelik, maar op ’n goeie manier en glad nie onbeskof nie. Maar [hy was] baie ordentlik en so maklik om in jou hart te kruip.”

Die skoolgemeenskap van die Laerskool Paulus Joubert het gisteroggend ’n kranslegging vir Herschel by die skool gehou. Sy medeleerders en mense uit die gemeenskap het hul eer aan die jong seun se lewe betoon.

Kapt. Louise du Plessis, die Paarl-polisie se woordvoerder, sê die 13-jarige seun van Paarl-Oos het sy lewe tragies verloor nadat hy in ’n dam naby die Du Toitskloofpas verdrink het. Die Boland-duikeenheid het dieselfde dag sy lewelose liggaam uit die dam gehaal.

“Dit blyk die oorledene en sy vriende wou van die een dam na die ander swem toe hy [Herschel] na bewering moeg geword het en nie verder kon swem nie. Sy vriende het tevergeefs hulp gaan soek.”

Du Plessis maan lede van die publiek, veral ouers, om te alle tye toesig by swemplekke te hê. Sy voeg by: “Die volwassene wat toesig hou, moet ook iemand wees wat goed kan swem om te help ingeval ’n swemmer in die moeilikheid beland.”

Teen druktyd kon geen begraf­nisreëlings bevestig word nie.

A bright young boy drowned on Sunday after he and friends swam from one dam to another at the foot of the Du Toitskloof Pass.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article