As jy onvergeetlike oomblikke en tonele pragtig wil verewig, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se gevorderde werksessie met die fotograaf Peter Haarhoff op Saterdag 5 Oktober die perfekte oplossing.
Die dagkursus is ideaal vir deelnemers wat ’n beginnerskursus voltooi het of ’n goeie begrip van sluiterspoed, diafragma en ISO-instellings het, en gemaklik voel om foto’s in die handmatige modus te neem. Om jou fotografie na die volgende vlak te neem sal jy hier leer hoe om uitstaande foto’s te neem deur meer komplekse kamerategnieke te verken en nuwe denke op die fotografiese proses toe te pas. Die balans tussen die tegniese en skeppende aspekte van fotografie sal ook verfyn word.
Dit is ’n praktiese, tweetalige program wat beteken dat jy dit wat jy geleer het onmiddellik onder die wakende oog van jou dosent en foto-meester kan beoefen. Die teorie vind in die lesinglokaal plaas, waarna almal oefen hoe om fantastiese foto’s van die mens, natuur en struktuur by die skilderagtige monument te neem.
Die kursus vind by die Taalmonument op Paarlberg van 09:00 tot 16:00 plaas en kos slegs R400 per persoon, wat ’n gratis besoek aan die monument asook verversings en bywoningsertifikate insluit. Deelnemers kan hul eie middagete bring of die Suikerkan-bistro ondersteun, waar hulle 10%-afslag ontvang. Deelnemers moet hul eie DSLR-kamera of enige kamera met handmatige beheer (manual control) bring. Geen selfoonkameras nie. Plekke is beperk, bespreek asseblief vroegtydig.
. Kontak Stefanie Rasztabiga by 021 872 3441 of per e-pos by kommunikasie@taalmuseum.co.za om te bespreek. Besoek flickr.com/people/peterhaarhoff/ vir meer inligting oor Peter Haarhoff.
. Skakel 021 872 3441/863 0543, volg ATM op Facebook of besoek taalmonument.co.za vir meer inligting oor al die aanbiedings van die ATM.



