’n Dief is onlangs in sy spore gestop deur lede van Fidelity ADT toe hy ’n hek by sportgronde in Paarl-Oos gesteel het.

Volgens Warren Cassisa, Paarl-takbestuurder vir dié maatskappy, wat gewapende reaksie bied, het een van hul beamptes op 5 Februarie ’n boodskap oor ’n poging tot diefstal op ’n plaaslike gemeenskap se WhatsApp-groep gesien.

Die beampte wat op die boodskap reageer het, het vir bystand gevra en hom na die sportgronde gehaas. Cassisa sê toe die beampte by die sportterrein aankom, was die aluminiumhek reeds afgehaal. Hy het die omgewing deursoek en die verdagte met hek en al opgespoor. Die man is aangekeer en is later deur die Paarl-Oos-polisie in hegtenis geneem.

Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het by navraag gesê geen klag is by dié polisiekantoor aangemeld nie.

Cassisa voeg by beamptes van Fidelity ADT en hul moniteringsentrumspanne het toegang tot sosialemediaplatforms in die gemeenskap. Hy sê dit help hulle om tred te hou met misdadige voorvalle.

“As jy ’n lid van een van hierdie groepe is, onthou asseblief om inligting op ’n verantwoordelike wyse te deel. Hoe gouer akkurate en outentieke inligting oor verdagtes met ons gedeel kan word, hoe groter is die kans dat hulle aangekeer kan word voordat hulle wegkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article