Verskeie ondersoeke is deur die polisie en die Drakenstein-munisipaliteit (DM) van stapel gestuur nadat ’n man op Kersdag deur ’n veiligheidswag by die Wellington-stortingsterrein geskiet is.
Kol. Johan Barkhuizen, die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, het die voorval bevestig. “ ’n Bokwe-veiligheidswag het Saterdag 25 Desember om 20:50 drie mans teëgekom terwyl hy sy rondes op die terrein gedoen het. Die mans het dadelik begin hardloop.
“Een van die mans het na bewering die wag bestorm terwyl die ander twee gevlug het. Die wag het glo ’n skoot met sy haelgeweer in die lug afgevuur, gevolg deur ’n tweede skoot, wat die oorledene in die bors getref het.”
Hy is op die toneel dood.
Barkhuizen sê die wag beweer hy het rubberkoeëls gebruik, maar die fisieke bewysstukke stem nie ooreen met die verdagte se weergawe van gebeure nie.
Verskeie bronne het beweer dié verdagte, wat tydens die voorval aan diens was, is nie by die Private Security Industry Regulatory Authority (PSIRA) geregistreer nie.
Verdere bewerings sluit in dat die wapen wat in die voorval gebruik is nie die amptelike diensvuurwapen van die maatskappy is nie en dat die verdagte nie oor ’n vuurwapenlisensie beskik nie.
Ernest Saayman, die DM se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapdienste, sê ’n interne ondersoek is ingestel en al die feite word nog versamel. “Ons betreur die feit dat ’n lid van die publiek sy lewe verloor het en betuig ons simpatie met sy naasbestaandes.”
Saayman bevestig die wag was tydens die voorval in diens van ’n onafhanklike diensverskaffer, Bokwe’s Security Services, wat veiligheidsdienste by die Wellington-stortingsterrein lewer. “[Die ondersoek] behels die versameling van feite rakende die voorval in samewerking met die polisie en PSIRA.
Saayman het gesê die verdagte is wel by PSIRA geregistreer.
Navraag na PSIRA se woordvoerder om die wag se lidmaatskap te bevestig is nie teen druktyd beantwoord nie.
“Die bewerings rakende die gebruik van die vuurwapen, sowel as die verdagte se vuurwapenlisensie, is deel van die huidige ondersoek,” sê Saayman.
Paarl Post het gevra wat die gevolge vir die onlangse tendertoekenning van Bokwe’s Security Services sou inhou aangesien die proses groot omstredenheid van die plaaslike veiligheidsmaatskappy se uitvoerende direkteur, Allan Carolissen van PACRS Security, in Oktober 2021 gelok het.
“Die uitkoms van ons interne ondersoek en die uitkoms van die polisie se ondersoek sal bepaal watter korrektiewe maatreëls toegepas gaan word,” het Saayman gesê.
“Weens die aard van die terrein en die potensiële inkomste wat afval vir lede van die gemeenskap bied, moet streng veiligheid daagliks by dié stortingsterrein gehandhaaf en bestuur word. Dit is waarom die munisipaliteit ’n spesifieke tender hiervoor ingestel het. Elke potensiële voorval word op ’n bepaalde wyse hanteer en bestuur.”
Saayman het ter afsluiting bevestig dit was die eerste voorval van dié aard by die Wellington-stortingsterrein. Daar was al voorheen ’n probleem met onwettige rommel-krappers op die terrein en wagte is ook aangeval, maar nie ernstig beseer nie. Pogings van die munisipaliteit om die terrein te beveilig om rommel-krappers weg te hou, is onsuksesvol.
“Die munisipaliteit sal die uitkoms van ons interne ondersoek, sowel as die uitkoms van die polisie-ondersoek, gebruik om moontlike bykomende maatreëls in te stel om te probeer voorkom dat soortgelyke voorvalle weer gebeur.”
* A Bokwe Security Services guard who was on duty on 25 December is a suspect in an ongoing investigation after a man had been shot during an incident at the Wellington dump site.




