‘n Gesamentlike subkomitee, bestaande uit amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het onlangs die Wes-Kaapse staande komitee oor onderwys oor sy programme ingelig om geweld by skole in die provinsie te bekamp.
Millicent Merton, ‘n woordvoerder vir die WKOD, sê die onderwysdepartement se adjunk-direkteurgeneraal van instellingsontwikkeling en koördinering, Alan Meyer, het die departement se strategiese en operasionele reaksie op leerderveiligheid en -dissipline voor die subkomitee aangebied.
“Hy sê die leidende beginsel is gehalteonderwys vir elke kind in elke klaskamer in elke skool in die provinsie en dat dit nie bereik kan word sonder ‘n veilige en gedissiplineerde omgewing waarbinne leerders kan presteer nie,” sê Merton.
“Die fokus van die aanbieding was die strategiese plan rakende die veiligheid en sekuriteit van leerders en die departement se benadering tot leerderdissipline, veral in die lig van onlangse voorvalle wat by oor die provinsie heen aangemeld is.”
Meyer het tydens sy aanbieding gesê daar kan geen blywende oplossung vir die uitdagings van leerderveiligheid en dissipline wees nie tensy hierdie twee kritieke gebiede op ‘n geïntegreerde, strategiese en sistemiese wyse aangespreek word nie. Hy meen dit is nie twee afsonderlike kwessies nie en dat daar geen veiligheid kan wees sonder dissipline nie.
Volgens Merton volg die WKOD ‘n omvattende, bewysgebaseerde en leerdergesentreerde benadering tot die veiligheid en sekuriteit van leerders en personeel, sowel as leerderdissipline. Dit veral in die lig van toenemende voorvalle in skole in die provinsie.
“Die aanbieding het ook beklemtoon dat die geïntegreerde skoolveiligheidstrategie die WKOD se veiligheidsbeplanning lei. Dit vereis regerings- en samelewingsbenaderings en fokus op misdaadbeheer, voorkoming en gemeenskapskohesie. Die Veilige Skolestrategie het ‘n drieledige benadering: omgewings-, gedrags- en stelselbenadering. Dit sluit infrastruktuuropgraderings in soos heinings, alarms, hekke, sowel as gedragsprogramme wat traumaberading en portuurgroepbemiddeling.”
Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, was ook teenwoordig en het ook ‘n paar punte voor die subkomitee gelig. Merton sê Maynier het veral gepraat rakende selfone op die skoolterrein.
“Wat die gebruik van selfone in skole betref, het Maynier gesê dat daar moontlik ‘n rol vir die staande komitee oor onderwys, as deel van hul toesighoudende rol, mag wees om skole te besoek wat ‘n selfoonvryebeleid aangeneem het en miskien te sien wat by daardie skole gewerk het en wat nie gewerk het nie. Hy het gesê hy sal baie geïnteresseerd wees in die komitee se bevindinge en moontlike aanbevelings.”
Paarl Post het uitgereik na ‘n paar plaaslike skole om te luister of hulle enigsin ‘n selfoonbeleid in werking gestel het. Klein Nederburg Sekondêr het bevestig dat hulle wel ‘n selfoonbeleid in plek het, maar wou nie verder uit wei rondom wat dit behels nie.


