Die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) is in November die gasheer vir seker een van die grootste gospelkonserte nog met onder andere Jonathan Rubain van Koortjies-faam en 18 ander sangers en groepe. In samewerking met Marco Mentoor en Chadleigh Gowar beloof hierdie geestelike sang-extravaganza om van Sondag 26 November ’n onvergeetbare middag in die amfiteater op Paarlberg te maak.

Besoekers sal van 13:00 tot 20:00 bekoor word met musiek en lirieke uit die boonste rakke danksy al die begeesterde sangers en groepe. Hulle sluit in Alrick Filander, Cheswyn Ray, Divine Ministry, DMD Deonecha/Mornè/Duelin, Dumisani, Heinrich Isaac, Kevin Booysen, Lekker Crew, Nosipho H, Paarl Archdeacon Choir, Reggie B, Rynhardt Serfontein (seremoniemeester), Set One Band, Seuns van Sion Koortjies Band asook Vurswill Seconds. Hierdie talentvolle musikante is van die Paarl en ander dele van die Wes-Kaap; hulle verteenwoordig ’n verskei­denheid gospelgenres en bespeel talle instrumente, onder meer saxofoon en klavier. Hul bekende opnames kry ruim lugtyd en hulle het al wyd gereis om hul boodskap oor te dra.

Rubain is alom bekend as die aanbieder van kykNET&Kie se Koortjies met Jonathan Rubain, waar die fokus val op die rol van geloof, sang, geestelikheid en sake wat kykers na aan die hart lê. As musikant, nou met Seuns van Sion, slaag hy daarin om gospel- en jazz-gehore by hul uitverkoopte konserte oor die land heen in vervoering te hou.

Die hekke open om 13:00 en gaste word aangemoedig om ’n gesinsuitstappie daarvan te maak. Daar is oorgenoeg sitplek, dus word geen ander stoele toegelaat nie. Stalletjies sal bekostigbare, heerlike verversings aanbied, derhalwe word geen eie kos of drank toegelaat nie. Genoeg parkeerplek is beskikbaar.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R120 vir volwassenes en kinders. As enige kaartjies nog beskikbaar is, sal dit van 12:00 by die hekke te koop wees.

Kontak Verinque Daniëls by 021 872 3441 of stuur e-pos na vakkundige@taalmuseum.co.za vir navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article