Die onlangse sinnelose gedrag van vandale het gelei tot groot skade by Klein Nederburg Sekondêr nadat hulle toegang gekry het tot die skool en dele van die skoolgebou gevandaliseer het.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) veroordeel die misdaad ten sterkste. Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die departement, het die verdagtes daarin geslaag om in twee voorvalle die lugversorgers en toiletgeriewe te vandaliseer. Dit sluit in die beskadiging van wasbakke en die steel van krane, koperpype en handrelings.
“ ’n Alarmmaatskappy het wel gereageer op die aktivering van die skool se alarmstelsel, maar ongelukkig het die oortreders reeds gevlug. Bykomende sekuriteit is deur die skool gereël. Dit is uiters hartseer dat ’n skool – wat die leerders van hierdie gemeenskap bedien – op hierdie manier geteiken word.”
Hammond sê die skool en die departement doen saam ’n beroep op inwoners wat inligting het oor die vandalisme by Klein Nederburg om na vore te kom, want dit kan help in die ondersoek om die vandale vas te trek.
“In baie gevalle van skoolvandalisme is dit mense uit daardie einste gemeenskap wat verantwoordelik is. Ons vra dat die gemeenskap hul ore en oë oophou en enige gesteelde goedere of inligting met betrekking tot hierdie twee voorvalle by die owerhede aan- meld. Skole is bates vir elke gemeenskap en moet as sodanig hanteer word. Ons boodskap aan hierdie oortreders is ‘hande van ons skole af’.”
Kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos- polisie, sê ’n dossier is geopen vir opsetlike saakbeskadiging by Klein Nederburg. Hy voeg by dat ’n voorval van vandalisme op 4 September by Paarlzicht Primêr ook aangemeld is, waar 10 vensters by die skool uitgeslaan is.
Hammond het ook statistieke van die eerste ses maande van die jaar vir 2022-’23 verskaf waarvolgens vandalisme by skole oor die Kaapse Wynland- onderwysdistrik heen aangemeld is. In 2022, van Januarie tot Junie, is 110 gevalle van vandalisme aangemeld. In 2023 in dieselfde tydperk is 75 gevalle aangemeld. Volgens Hammond kan sy weens veiligheidsredes nie die name van die geaffekteerde skole, wat deel is van die statistieke, verskaf nie.
. Enigiemand met inligting oor die onlangse vandalisme by Klein Nederburg Sekondêr word versoek om die Paarl-Oos-polisie by 021 877 5900 te kontak.. The recent senseless behaviour of vandals led to great damage at Klein Nederburg Secondary after they gained access to the school and vandalized parts of the school building.





