Een van die Paarl se mees asemrowende bome staan naby die Boulevard, en tog is honderde motoriste wat daagliks daar verby ry nie eens bewus van hom nie.
Die boom is ’n kurk-eik, en hy staan in die Toringkerk se kerkhof, nie ver van die brandweerstasie af nie. Hy staan na agter in die kerkhof, naby die rivierkant se grens, en is dus nie sigbaar van die Boulevard af nie, tensy jy spesiaal vir hom oplet. Dis nie ’n besonder hoë boom nie, maar baie wyd spreidend – sy drup-area is nagenoeg 28 meter in deursnee. In sy skaduwee en rondom hom lê die grafte van afgestorwenes uit vervloë dae.
Daar is ander kurk-eike in die Paarl. Jy tref hulle nogal op onverwagse plekke aan. In Victoria-park langs Markstraat staan een, en langs die Boulevard naby die treinbrug oor die rivier staan twee. Op die hoek van Breda- en Loopstraat staan ’n grysaard wat waghou oor ’n gebied wat as informele nagskuiling gebruik word.
Die kurk-eik se tuisgebied is gesentreer rondom Portugal, waar natuurlike en aangeplante kurk-eik-woude sowat 7 500 km² beslaan. (Dink aan ’n gebied van 86 km by 86 km, van hoek tot kant vol kurk-eike.) Die naasliggende gedeelte van Spanje, asook die weskus van Italië, die eiland Sardinië en die Mediterreense kusgebiede Marokko, Algerië en Tunisië, het ook groot woude en aanplantings van die boom. Die kurk-eik is een van die immergroen eikespesies, soortgelyk aan die holm-eik. Sy donkergroen, leeragtige blare is heelwat kleiner as dié van die Engelse eik.
Soos alle eikespesies dra die boom akkers. Dié is ook kleiner as die akkers van die Engelse eik, wat ons ken.
Die uitstaande kenmerk van die kurk-eik is die dik, oorlangs-gesplete lae bruingrys kurk waaruit die buitenste bas van die boom bestaan. Die spesienaam suber verwys ook hierna (suber is die Latynse woord vir kurk). Kurk is ’n merkwaardige produk met ’n unieke kombinasie eienskappe. Dit is eerstens baie lig, want die selle waaruit dit bestaan, is gevul met ’n mengsel gasse –iets wat ook uitstekende hitte-isolasie en elastisiteit aan kurk verleen. Die hoofbestanddeel van die selwande is water-afwerend, wat meebring dat kurk nie water deurlaat nie en gevolglik teen verrotting bestand is. Dit verskaf uitstekende klankdemping en vibrasie-absorbering. Kurk is waardevol in die bekamping van brande. Dit brand baie stadig en sonder ’n vlam, wat help dat die brand nie versprei nie. Hierdie brandbestandheid is ’n belangrike oorlewingsmeganisme van die kurk-eik, net soos by ons hoëveld-kiepersol wat ook ’n kurkagtige bas het. Bowendien is kurk ’n volkome natuurlike produk, algeheel bio-afbreekbaar en hernubaar.
Bogenoemde eienskappe het toegesien dat kurk reeds langer as 5 000 jaar vir ’n wye verskeidenheid doeleindes deur die mens gebruik word. Ons almal ken die kurkproppe van wyn- en vonkelwynbottels.
(Tans word 13 miljard kurkproppe per jaar vervaardig.)
Kurk vorm die kern van elke krieketbal wat gemaak word, word gebruik vir pakstukke in enjins en word selfs op ruimtetuie aangetref waar dit ten spyte van die beskikbaarheid van die nuutste sintetiese produkte steeds in nie-ontvlambare hitteskerms gebruik word.
Vir Portugal is die kurkbedryf van groot belang en word dit sorgvuldig bestuur wat gehalte sowel as versorging van die bome betref. Kurk-oeswerk word deur hoogs opgeleide werkers gedoen wat ’n spesiale, vlymskerp byl gebruik om die dik “velle” kurk af te haal sonder om die laag selle in die stam, waaruit nuwe kurk gevorm moet word, seer te maak. Die kurk word die eerste keer geoes as die boom omtrent 20 jaar oud is en dan ongeveer elke nege jaar.





