Conrad Poole, voormalige Drakenstein-burgemeester, sal eersdaags ingesweer word as ’n lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer.
Paarl Post het ’n brief bekom wat deur Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, aan die provinsiale wetgewer se sekretaris uitgereik is, waarin Zille vir Poole nomineer om Dan Plato se posisie te vul.
Plato het verlede maand bedank as ’n DA-LPW en by die People’s Movement for Change (PMC) aangesluit.
Zille het die brief Woensdag (6 Maart) uitgereik, presies ’n week nadat Poole op ’n raadsvergadering deur ’n wantrouemosie verwyder is.
In die brief lys sy ook vyf ander genomineerde kandidate wat volgens haar “nie vir die posisie beskikbaar is nie”.
“Ons versoek graag dat meneer Conrad Poole so spoedig as moontlik ingesweer word om die vakante pos te vul,” het Zille in die brief gesê.Intussen het die Drakenstein-speaker Woensdag in ’n WhatsApp boodskap aan raadslede bevestig dat hy Poole se bedankingsbrief ontvang het.
Poole is Woensdag (28 Februarie) op ’n raadsvergadering deur ’n wantrouemosie as uitvoerende burgemeester verwyder, toe 34 uit die 62 raadslede vir sy verwydering gestem het.
DA-raadslede was onder die 34 wat teen Poole gestem het.
Gert Combrink, die adjunkburgemeester, neem intussen in Poole se plek waar totdat ’n nuwe burgemeester aanstaande Woensdag (13 Maart) verkies sal word.
’n Donker wolk hang sedert Augustus verlede jaar oor Poole se kop toe hy as burgemeester van wanadministrasie beskuldig is.
Koos le Roux, die Speaker, het Sondag (3 Maart) in ’n verklaring gesê nadat die bewerings – dat lede van Poole se burgemeesterskomitee glo betaal het vir posisies – sy kantoor verlede jaar bereik het, kon die ondersoek tot nou geen bewyse of getuienisse lewer nie.
Le Roux het gevolglik die ondersoek teen hom laat vaar.
Poole is in 2016 tot uitvoerende burgemeester van Drakenstein verkies.
Paarl Post het Woensdag na die DA in die Wes-Kaap uitgereik vir kommentaar, wat bygevoeg sal word sodra die publikasie dit ontvang.





