Die Paarl-krieketklub (KK) het verlede Saterdag in Krieket Boland se Premieliga-kompetisie hard geveg teen Van Der Stel KK op die Parys-veld, maar die onderspit gedelf en met vier paaltjies verloor.

Paarl se 186/6 was hoofsaaklik te danke aan die verantwoordelike kolfbeurte van Lindley Hendricks (58, 7×4, 1×6) en Darryl Hendricks (56, 4×4, 3×6), wat betrokke was in ’n vierde­paaltjievennootskap van 41 lopies.

Lindley en sy kaptein, Adrian du Toit, het vroeër vasgeskop en 48 lopies bygevoeg om die derde paaltjie, terwyl Herschelle Poggenpoel en Hendricks 40 lopies om die vyfde paaltjie geslaan het.

Die res van Paarl se kolwers kon egter nie staande bly teen die akkurate boulwerk van Van Der Stel se JJ Lambrechts (8-0-40-2) en Stefan Maree (7-0-37-2) nie.

Van Der Stel (190/6) moes staatmaak op ’n geduldige beurt van Byron Haycock (52 in 96 balle, 3×4) om die wa deur die drif te sleep. André Hanekom (36, 3×4, 1×6) en JJ Lambrechts (35, 3×4, 1×6) het die langsteel kom inlê nadat Janneman Malan (21 in 64 balle) goed in toom gehou is deur Taywin Adams (7-1-24-1) en Cullen Heugh (6-3-11-0). Paarl se draaiboulers het goed walgegooi, met Henrico Albertus (8-0-32-3) aan die spits, goed bygestaan deur Waylain September (10-0-36-1) en Poggenpoel (7.1-1-34-1).

Paarl II het ’n skitterende vyfpaaltjie-oorwinning oor Van Der Stel II in Stellenbosch behaal, nadat die tuisspan 212/6 in 50 boulbeurte behaal het, danksy goeie beurte deur André Pienaar (67) en John Claasen (63). Jan Jones (10-0-45-3) en Kaydee Koopman (6-0-41-2) was Paarl se beste boulers.

Paarl II (213/5) het goed begin met ’n aanvangsvennootskap van 55 tussen Thorston Morkel (19) en sy kaptein, Aqeeb Douman (54, 11×4). Leswin Titus (28) se tweedepaaltjievennootskap van 57 met Douman, gevolg deur ’n vyfpaaltjie­vennootskap van 86 tussen Jan Jones (30, 2×4) en Keagan Whitten (52 n.u.n, 5×4), het die knoop deurgehaak.

Paarl speel Saterdag tuis teen Victoriane en Sondag weg teen Worcester United, terwyl Paarl II Sondag tuis speel teen Worcester United II.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article