Die Hoër Jongenskool se Hannes van Dyk was verlede jaar ’n tipiese energieke, lewenslustige matrikulant. Boonop is hy uiters gesondheidsbewus en ’n gereelde gesig in die gimnasium.
Maar, net toe Hannes, toe 17, se matriekjaar goed op dreef was, het hy en sy gesin se lewe eensklaps verander toe hy ’n beroerte by die skool beleef het.
Die voorval het op 29 Maart 2023 gebeur.
Hannes vertel hulle was besig om klasse te wissel toe hy begin sleg voel het.
“Ek het erge tinnitus in my een oor gekry en was verskriklik duiselig en het gesukkel om te praat. Ek was ook heeltemal van balans af. Ek het eers gedink dis ’n hoofpyn wat sal weggaan, of dalk duiseligheid.
“Ek het vir my vriend, Albert, gesê iets is nie reg nie. Ek wou later opgooi en sê toe vir Albert ek dink ek moet kantoor toe gaan, maar ek kon nie op my voete staan nie. Hulle moes my toe kantoor toe dra. Ek was verskriklik naar en het baie opgegooi. Almal het gedink dit is my bloedsuikervlak. Die een kant van my kop was ook baie swaar en ek wou net die heeltyd lê.”
Die skool het Hannes se ma, Alinda, inderhaas gekontak en sy is na die skool en het hom na Mediclinic Paarl geneem.
Die een dokter het wel vermoed dat dit moontlik ’n beroerte kon wees, maar so iets is bykans onmoontlik vir iemand van so ’n jong ouderdom.
Hannes is deur ’n geweldige sarsie toetse gesit en eers nadat hy vir ’n CT-skandering gegaan het, is bevestig dat hy wel ’n beroerte gehad het.
Dit het die dokters laat kopkrap oor hoe so ’n jong gesonde man op 17-jarige ouderdom ’n akute beroerte op die serebellum gekry het.
“Die dokters het allerhande genetiese toetse – bloedtoetse en ’n klomp ander – op my gedoen om die rede hiervoor vas te stel, maar dit het niks opgelewer nie.
“Ons het ook geen familiegeskiedenis van beroertes nie. Dit bly steeds ’n raaisel,” vertel Hannes.
Alinda sê dit was natuurlik ’n geweldige skok vir die familie. Maar hul fokus was pal daarop om Hannes op die pad na herstel te kry.
Hannes is na ’n Kaapse hospitaal waar hy dadelik in die waaksaal opgeneem is.
“Ek weet min van my aankoms en opname daar en het eers die volgende dag besef wat werklik met my gebeur het. Die dokters het alles aan my verduidelik.
“Maar dit was eers in die volgende paar dae dat ek en die dokters werklik agtergekom het hoe baie van my vaardighede soos loop, skryf en praat, deur die skade aan my brein geaffekteer is.”
Hoewel baie van Hannes se vaardighede geaffekteer is, is almal baie dankbaar dat hy geen verlamming ondervind het nie, soos wat met baie slagoffers van ’n beroerte die geval kan wees.
En wat nou voorgelê het, was ’n pad van intensiewe rehabilitasie met die hulp van ’n fisioterapeut, ’n arbeidsterapeut en ’n spraakterapeut.
Die herstelproses was danksy hierdie hulp en die feit dat Hannes jonk en gesond is, vinniger in vergelyking met ouer mense.
“Ek was heeltyd verskriklik positief,” se Hannes. “Maar hoe langer die proses aangegaan het, hoe meer het ek besef watter uitwerking en verskil dit eintlik in my lewe gemaak het.
“Ek kon nie meer oefen nie en ek was veral baie bekommerd oor my akademie, want ek kon glad nie skryf nie.
“Ek het op ’n kol gedink ek sou nie my matriekeksamen kon skryf nie.”
En met hierdie positiewe ingesteldheid asook die bystand van sy gesin en die nodige terapeute en medici, was Hannes drie weke nadat hy die beroerte gekry, weer op die skoolbanke by Boishaai.
Dit was ’n moeilike tyd wat voorgelê het, met baie aanpassings.
Maar, sê Hannes, hy is met ope arms by Boishaai terugverwelkom en almal was bereid om so ver as moontlik te help om sy pad na die matriekeindeksamen moontlik te maak.
Dit het vrugte afgewerp, want verlede week het die Van Dyk-gesin behoorlik gejubel toe die nuus ontvang is dat hy matriek met toelating tot diplomastudies geslaag het.
“Ek is baie dankbaar teenoor my terapeute en my ouers wat my gehelp het om te kom waar ek vandag is. Sonder hulle sou ek nie hier gewees het nie.”
Hannes sê hoewel 2023 ’n baie moeilike pad was wat hy en sy gesin moes stap, het dit hom wel ’n ander perspektief op die lewe gegee en hom ’n meer nederige ingesteldheid gegee.
“Alles wat ek het, kan vergaan. Om elke oomblik te waardeer, is wat nou vir my belangrik is. Ek dink voor my beroerte was ek so gefokus op die toekoms en net om die heeltyd daar uit te kom. Ek het nie besef wat ek in die nóú het nie.
“Dit het my definitief ook nader aan die Here gebring. I knew of him but I didn’t know him. Ek is nie die skrywer van my eie storie nie. Dit klink dalk snaaks, maar ek het ’n storie om te vertel,” sê hy.
Hannes gaan vanjaar ’n oorbruggingsjaar neem.
Hy werk tans as vrywilliger vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit-brandweer in Stellenbosch en is omtrent aan die diep kant ingegooi met die brandseisoen wat tans op sy ergste is.
“Dit is iets wat ek baie graag wil doen. Dit is ’n werk waar ek kan uithelp en teruggee aan mense. As ek kan teruggee en lewens red soos my lewe gered is, sal dit my baie gelukkig maak.”
Alinda het verder gesê hulle is geweldig dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van almal by die Hoër Jongenskool gekry het.
“Hierdie pad sou baie moeiliker daarsonder gewees het. Boys Highsal altyd in ons harte wees – altyd blou – en ons sal altyd getuig van die broederskap en vriendskappe wat lewenslank bindend sal wees.
“My ‘twig’ is nou ’n boom – en die belangrikste van alles – die Herder het sy verlore skaap gevind.”





