Wim Gericke hou sy eerste uitstalling van vervaardigde meubels en dekoritems van hout wat uit die Paarl-omgewing herwin is.
Elke produk is in die waenhuis van Lemoenkloofweg 4 self met ou en moderne gereedskap verwerk.
“My reis met hout het by my pa, George Gericke, ’n houtwerkdosent, begin. Hy het ’n veldstoeltjie gemaak, waarvan elke spar van ’n ander boomsoort in die tuin was waar ek grootgeword het. Die huis en bome is sedertdien gesloop om vir ’n kantoorgebou plek te maak.”
Wim is hierdeur geïnspireer om stedelike hout, wat beskikbaar raak deur snoeiwerk, ontwikkeling en windskade, te ondersoek.
“Veertig jaar gelede was mense verbaas as jy vir ’n stomp gevra het. Deesdae moet jy spring sodat al die hout nie vir braai- of kaggelhout opgesny word nie!”
Dit is veral die vervorming weens vertakking en verwondingskade aan die hout wat interessante moontlikhede skep.
Dit is wonderlik om te sien dat hout nie verlore gaan nie en ’n tweede lewe kry.
Die uitstalling bied die volgende:
1. 500 houtharte van meer as 10 soorte hout. Met die verwonding en uiteenlopende vorms van die harte raak dit ’n onderwerp vir gesprek.
2. Bankies van 500 mm tot 3 meter in lengte.
3. Kers-staanders met koperplaat op hul koppe.
4. Houtbotteltjies as blomhouers gebaseer op die outydse agtkantige bloubottel.
5. Houtkissies met herwinde keramiekhouers vir blomme of kerse.
6. Hout muur ”scones” om as blomhouers te gebruik.
7. Replika-kinderstoeltjies in Kaapse Regency en outydse skoolstoeltjie style.
Die uitstalling duur van 1 Desember tot 3 Desember van 10:00 tot 19:00 by Lemoenkloofweg 4 in die Paarl.
Wim gee op 1 Desember om 18:00 ’n praatjie genaamd “Hout, hul name en stories”. RSVP asseblief vir die praatjie by 082 896 9379 met WhatsApp of SMS voor 30 November.





