Die lang verwagte derde Franschhoek-kamermusiekfees hou groot belofte in om van Donderdag 15 tot Sondag 18 Februarie weer ’n musikale skouspel te wees.
Die fees, wat vier dae se betowerende optredes en musikale briljansie inhou, pronk met ’n indrukwekkende verskeidenheid van talente, komposisies en ’n eksklusiewe kunsuitstalling deur die bekroonde kunstenaar Jan Vermeiren.
Al die konserte word by die historiese Franschhoek NG kerk met sy onberispelike akoestiek gehou. Geen konserte oorvleuel nie, dus hoef geen optredes misgeloop te word nie.
Die kerk is in die middedorp geleë, wat beteken genoeg skaduryke parkeerplek is beskikbaar.
Die fees behels 10 konserte, insluitend optredes deur die gaskunstenaars, die uitsonderlike Berlynse Bushakevitz-sibbe Ammiel en Avigail.
Kamermusiek-meesterstukke sal uitgevoer word deur die veelsydige en talentvolle musikante van die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO).
Louis Heyneman, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KFO, sê die Franschhoek-kamermusiekfees weerspieël die meer intieme kant wat kamermusiek na vore bring by musici, maar ook waarderende konsertgangers, en die positiewe terugvoer van die eerste twee feeste het dit bewys.
“Dit is deel van ons mandaat om die lewensgehalte van alle gemeenskappe te verbeter en om in die wynlande op te tree, is ’n voorreg,” voer hy aan.
Die stigters, Nic en Ferda Barrow, het hul vreugde uitgespreek oor die evolusie van die fees en hul verbintenis om kamermusiek na die wynlande te bring, beklemtoon.
“Ons is veral tevrede met die kombinasie van klassieke en kontemporêre werke en, natuurlik, die insluiting van twee vroulike komponiste,” het die stigters gesê.
Vanjaar se kunsuitstalling is ’n eksklusiewe uitstalling van Vermeiren se werk.
Hoewel hy in 1949 in België gebore is, is hy bekend as ’n Suid-Afrikaanse na-oorlogse en kontemporêre skilder wat wyd ter plaatse en in die buiteland uitgestal het.
Vermeiren is ook bekend vir die ontwerp van die amptelike visuele beeld vir die Franschhoek-kamermusiekfees van 2022 tot 2024.
Sy skilderye in olie sowel as litografieë en etse sal vertoon word.
Vanjaar se fees hou weer groot belofte vir ’n unieke en diverse musikale reis in.
Dit is ’n buitengewone geleentheid om die diepte en skoonheid van kamermusiek in ’n betowerende omgewing te ervaar.
Feesgangers word uitgenooi om hulself te verdiep in die wêreld van klassieke musiek op sy mooiste.
. Kaartjies is aanlyn by Quicket te koop.



