Die belowende jong swemmer Ulrich van der Westhuizen is gekies as Paarl Post se Sportster van die jaar-laerskole-kandidaat vir Mei.
Dié leerder van die Laerskool Hugenote sê met trots hy kies swem bo enige ander sportsoort. Hy vertel hy het van driejarige ouderdom af aan tennis en bulletjie-rugby in Kemptonpark, waar hulle eers gewoon het, deelgeneem en het op agtjarige ouderdom eers begin swem toe hulle na die Paarl verhuis het.
“Ek het op daardie tydstip net ’n bietjie in die swembad baljaar, maar toe ek in my eerste skoolgala geswem het, het ek verlief geraak op die sport.”
Hy het nie in daardie stadium professionele swemafrigting gekry nie, maar met die hulp YouTube-video’s en in hul swembad tuis begin om die slae te oefen.
Hy het eers ná omtrent ses maande by ’n swemskool aangesluit.
Ulrich is onlangs in die Wes-Kaap se skole-swemspan opgeneem. Hy kon dit nie glo toe dit aangekondig word dat hy lid van dié span is nie.
Volgens hom is sy sterkpunt sy uithouvermoë. Hy voel egter hy sal graag sy borsslag wil verbeter.
“Ek het ure en ure geoefen – die meeste van die tyd ná ’n lang dag op skool en ander sportoefeninge ook. Party dae was ek doodmoeg, maar ek het net uitgehou en vir myself doelwitte gestel en geweet ek moes die ure insit. Uiteindelik het dit begin wys en dit was gewis die moeite werd. Dit kan net beter en beter gaan.”
Buiten die Wes-Kaap-skole-swemspan waarvan Ulrich lid is, het hy ook sy Boland-kleure in tweekamp verwerf. Hy en sy tweekamp-spanmaats het onlangs aan die SA kampioenskap in Pretoria deelgeneem.
Nóg ’n hoogtepunt vir Ulrich is toe hy en die res van sy provinsiale skole-swemspan kort daarna, ook in Pretoria, aan die SA swemkampioenskap kon deelneem. Hier het hy die eerste plek in vlinderslag behaal.
Hierna het hy aan die SANJ-kampioenskap in Gqeberha deelgeneem en twee vierde plekke in vlinderslag en ’n vyfde plek in rugslag losgeswem. Hier het hy ook sy swemhelde, Chad le Clos, Matthew Sates en Tatjana Schoenmaker ontmoet.
Dit is nie net altyd harde werk en oefeninge vir Ulrich nie. “Ek is ook baie lief vir kultuur, sing in die skoolkoor en neem ook aan redenaars deel.” Vir hom is daar ook oorgenoeg tyd om ten spyte van sy sportprestasies nog kind te wees.
Ulrich sê hy is mal oor videospeletjies en is glo ook ’n bekwame veerpyltjie-speler “wanneer my pa braai”. “My bynaam by die huis is Clumsy, soos in die Smurfs-fliek – seker omdat ek alles met spoed wil doen en dan gewoonlik iets breek. Ek is mal oor sing en doen dit graag met verskillende stemme. Ek sing ook in ons skoolkoor. Ek hou daarvan om poetse te bak en my pa se siel uit te trek,” voeg hy by.
Ulrich het sy swemafrigter, Paul Emslie, bedank vir al sy tyd om Ulrich te help om in swem te groei.
* Ulrich van der Westhuizen is a young man with many talents up his sleeve. He spends most of his time in the pool, but if he does not sing in the school choir, he plays rugby, hockey, cricket or athletics. He was chosen as Paarl Post’s primary school sport star for the month of May.





