Suid-Afrika se 2022-oesjaar sal verbruikers beïndruk met uitsonderlike wyne, ondanks ’n ietwat kleiner druiwe-oes as in 2021 ingevolge die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag.

“ ’n Koel seisoen en matige weerstoestande in die meeste streke tydens parstyd het rypwording vertraag, wat wingerde die geleentheid gegee het om treffende geur en kleur in vanjaar se wyndruifoes te ontwikkel,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro. Parstyd is gemiddeld met 10 tot 14 dae vertraag.

Die 2022-wyndruifoes word op 1 378 737 ton beraam, volgens ’n skatting deur die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels) wat op 25 Mei bekend gestel is. Dit is 5,5% kleiner as die 2021-oes, maar steeds groter as die vyfjaargemiddelde oes van 1 346 024 ton.

Die kleiner wyndruifoes kan toegeskryf word aan ’n afname in die algehele wingerdoppervlak weens die uitkapping van wingerde, siektedruk weens ontydige reënval net voor of tydens parstyd, en geïsoleerde gevalle van sonbrand as gevolg van hittegolwe in sommige streke.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is versprei oor ’n wye reeks verbouingsgebiede met uiteenlopende klimaatstoestande wat die oes verskillend in elke streek beïnvloed,” sê Schutte. Die meeste wyndruifverbouingstreke het ’n kleiner oes gelewer, met die uitsondering van die Kaapse suidkus en Stellenbosch.

Uitsonderlike wyne

“Wynliefhebbers kan uitsien na uitsonderlike wyne van die 2022-oesjaar,” sê Schutte. “Ons sien regtig treffende kleur- en geurontwikkeling by druiwe in die kelder, danksy ’n koeler seisoen wat rypwording vertraag en die geleentheid gebied het vir hierdie komponente om ten beste te ontwikkel.”

Verbruikers kan dus uitsien na uitsonderlike gehaltewyne van ’n kleiner Suid-Afrikaanse wyndruifoes vanjaar.

Vroeë kultivars is teen goeie geur- en suikerkonsentrasies gepars, met laer sure en hoër pH’s. Later kultivars het baat gevind by droë, matige temperature tydens rypwording, wat tot goeie rypwording teen goeie suiker- en alkoholvlakke aanleiding gegee het.

Die wynproduksie in 2022 – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – sal na verwagting 1 072,4 miljoen liter beloop teen ’n gemiddelde verhaling van 778 liter per ton druiwe.

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent wêreldwyd en produseer sowat 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R55 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het bykans 269 000 mense in diens reg deur die waardeketting, waarvan meer as 80 000 op plase en in kelders werk.

2021-’22-groeiseisoen

Die meeste streke het genoeg water gehad om na-oesbesproeiing en kunsmis toe te dien. Blaarval het om en by die gewone tyd in Mei plaasgevind, en die meeste produsente het hul dekgewasse ietwat later as gewoonlik geplant. Waar donsskimmel en witroes voorgekom het, het wyndruifprodusente na-oes swamdoders toegedien.

Wintertoestande was uitstekend, gekenmerk deur meestal bogemiddelde koue-eenhede en gereelde sneeuval op hoogliggende gebiede van die Kaapse Plooiberge. Die meeste wyndruifverbouingstreke het bogemiddelde reënval ontvang, wat grondwatervlakke aangevul het, met die uitsondering van die Noord-Kaap, wat ’n somerreënvalstreek is.

Bot het weens ’n koel, nat lente sewe tot 14 dae later as gewoonlik plaasgevind, maar was deurgaans goed en egalig. Die koel weer het ook aanvanklike lootgroei vertraag. Die meeste wingerde het teen blomtyd begin inhaal – sowat vyf dae later as gewoonlik.

Set het teen ’n goeie tempo plaasgevind en was meestal gelyk. Lote en blare het sterk begin groei namate temperature in Desember toegeneem het. Dit het bykomende lowerbestuursaksies soos blaarverwydering, tip en top volgens groei per streek, kultivar en wyndoelwit genoodsaak.

Ná ’n koel aanloop tot die seisoen, het skielike hittepieke in Desember en Januarie sonbrandskade op druiwe in sekere streke tot gevolg gehad. Terselfdertyd het ander streke onverwagte reënval ervaar, wat gelei het tot hoë siektedruk en uitdagings om die uitwerking van donsskimmel en witroes te beperk.

Parstyd is oor die algemeen met tien tot 14 dae vertraag. Aangesien temperature gedurende die res van die seisoen matig gebly het, het wingerde hul tyd geneem om optimale rypheid te bereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article