Dit was ’n opgewonde dog emosionele oomblik vir ’n groep inwoners van Amstelhof toe die Drakenstein-munisipaliteit verlede Woensdag (22 Junie) die titelaktes van die munisipale huise, waarin dié inwoners jare lank as huurders woon, aan hulle oorhandig het.
Die oudste inwoner by die seremonie, en wat ’n titelakte ontvang het, is die 94-jarige Abraham Kock.
Die plaaslike prokureur Fred van Wyk en sy kantoor is deur die munisipaliteit aangestel om die titelaktes te registreer. Volgens Van Wyk het hy al voorheen saam met die munisipaliteit gewerk om titelaktes in die naam van inwoners te registreer, maar hierdie was die eerste keer dat hy en die munisipaliteit die aktes amptelik oorhandig het.
“Die proses is moeilik aangesien probleme met watermeters ondervind is. Elke eiendom moet van ’n watermeter voorsien word voordat dit ingevolge regulasies oorgedra mag word.
“Baie van die oordragte was letterlik jare gelede al gereed vir registrasie, maar toe laat weet die munisipaliteit ons moet wag vir begroting sodat die watermeters geïnstalleer kan word. So, die watermeters word maar nou fase vir fase geïnstalleer en nog moet gedoen word.”
Van Wyk het bevestig dat die watermeters van die huise waarvan die aktes onlangs oorhandig is, reeds geïnstalleer is. Altesaam 20 titelaktes is geregistreer, maar net 17 kon oorhandig word. Twee van die ontvangers is reeds oorlede en een kon nie opgespoor word by die adres wat die munisipaliteit gehad het nie.
“Ons gaan hul aktes behou. Die familie moet na die kantoor kom sodat ons ’n boedel kan aanmeld sodat die akte aan die regmatige erfgename oorgedra kan word,” sê Van Wyk.
Die 94-jarige Kock woon al langer as 30 jaar in die huis wat hy nou uiteindelik sy eie kan noem. Kock het nie baie woorde gehad nie, maar gesê: “Ek is net dankbaar vir die Here.” Sy dogter Mina April, wat na haar pa omsien, sê sy is ook baie bly vir sy part.
Vir Charlotte Arendse is dit nou uiteindelik ’n werklikheid dat sy ’n huiseienaar is ná al die jare se “hartseer en gesukkel”.
Sy is oorstelp van blydskap. “Ek moet sê ek is baie bly daaroor en ek moet die Here dank daarvoor dat Hy die dag vir ons moontlik gemaak het. Ons woon nou al 34 jaar daar.”
Haar man, Adriaan Arendse, voeg by: “Soos my vrou sê – ons almal is bly vir hierdie ding, want dit is maar nou net dat jy self verantwoordelikheid vat. Dis nou jou eie eiendom, en ons voel baie bly daaroor dat ons vandag kan sê ons is huiseienaars.”
Van Wyk het verder ook die ontvangers van die titelaktes aangemoedig om ’n testament op te stel noudat hulle huiseienaars is.
Die wyksraadslid van Amstelhof, Vanessa Booysen, was ook by die seremonie teenwoordig. Die raadslid Rita Andreas, ’n lid van die burgemeesterskomitee vir menslike nedersettings, het vir die burgemeester, Conrad Poole, wat weens ander verantwoordelikhede nie die geleentheid kon bywoon nie, ingestaan.
- It was an exciting yet emotional moment for a group of residents of Amstelhof when Drakenstein Municipality handed over the title deeds of the municipal houses, which these residents have been living in and renting for many years.





