Dit was van jongs af my hartsbegeerte om eendag ’n huis vol kinders te hê.
My drome het eerlikwaar nooit ’n man ingesluit nie. Almal rondom my het geweet ek wil graag ’n non wees, so my drome het nooit ’n man ingesluit nie.
Tesame met my suster, Margareth, ’n paar niggies en jeugmaats, het ons gedroom oor ’n huis vol kinders. Oor die jare heen het elkeen hul eie rigting ingeslaan. Dinge het nie alles so uitgewerk soos ek gedroom het nie, maar het grotendeels waar geword.
Ná skool het ek my eie dagsorgsentrums in verskillende dorpe begin en bestuur, en ook tien jaar by ’n sentrum gewerk waar ek die koördineerder was van programme vir MIV-geïnfekteerde en geaffekteerde kinders.
Die droom van ’n huis met kinders het bly spook, selfs nadat my eie kinders gebore is. Af en toe het ons as gesin ’n kind van ’n kinderhuis vir die vakansie by ons geneem, en my hart het elke keer verkrummel as ek in die ogies van die kinders gekyk het wat moes agterbly. Ek moes oor die jare leer dat jy nie almal kan help wat jou pad kruis nie, maar jy kan dit ten minste vir een mens op ’n keer doen.
By die sentrum waar ek gewerk het, het tientalle kinders elke dag opgedaag vir programme en ’n voedsame maaltyd ontvang. Saans was my bekommernis oor waar sommige van hulle gaan slaap, of hulle iets te ete gaan hê en of daar ’n volwassene is om hulle te versorg en toe te sien dat hulle veilig is.
Daar was soveel stories van kinders wat verwaarloos word, tiener- swangerskappe, alkoholmisbruik onder die jeugdiges en vele meer, wat jou soms laat voel het jy maak geen verskil nie. Ná ’n dekade by die sentrum het ek bedank, en eers daarna het van die leerders en selfs van die ouers my gekontak om dankie te sê?, en my hart swel elke keer van trots op hulle wat uitstyg – ongeag hul omstandighede.
Ek het bedank omdat ek geweet het as God iets op jou hart geplaas het, is dit soos ’n vuurtjie wat nie geblus kan word nie.
Die afgelope paar jare leef ek my kinderdroom as huismoeder by ’n huis van veiligheid deur kinders in te neem en hulle te versorg asof hulle my eie is.
Dis ’n besonderse voorreg en warm-om-die-hart-gevoel om iets te doen wat jy weet eintlik ’n liefdestaak is, selfs al ontvang jy ’n salaris. Natuurlik is dit hartverskeurend om die kinders se stories te hoor (die minimum besonderhede wat die maatskaplike werkers met jou deel wanneer hulle die kinders by jou plaas) en die besef van die trauma waardeur soveel kinders reeds op ’n jong ouderdom leef.
Jy sien die letsels wat gelaat is en hoop en bid dat die Liewe Heer op alle vlakke genesing sal bring.
In al die jare waarin ek by kinders betrokke was en steeds is, bly daar trane sonder tal, oneindige vrae, gebede . . . Hoe kry ’n mamma dit oor haar hart om haar kind vir R300 aan ’n smokkelhuiseienaar te verkoop – in ruil vir alkohol?
Besef die ouers dat hul kinders nagmerries kry en gedragsprobleme het as gevolg van wat hulle tuis ervaar het? Besef die mammies wat hul pasgebore baba in ’n vullisdrom gooi dat daar derduisende vroue is wat na ’n kind in haar skoot smag?
Soveel vrae sonder antwoorde . . .
Met hierdie skrywe wil ek die vroue, mans en paartjies salueer wat kinders by hulle inneem, of dit in veiligheid, pleegsorg of aanneming is.
Dis deksels moeilik om iemand anders se kind/ers groot te maak. Jy moet weet waarvoor jy jou inlaat, en die ondersteuning van familie en vriende hê. Jy kan dit nie alleen doen nie.
Tog het ek die afgelope tyd weer besef hoe baie mense, vele sonder dat hulle ooit erkenning kry, of gekry het, kinders uit die liefde van hul hart by hulle ingeneem het – dikwels sonder betaling.
Baie dankie vir jul onbaatsugtige diens aan die mensdom. Ek salueer elkeen van julle!
“A hundred years from now it will not matter what my bank account was, the sort of house I lived in, or the kind of car I drove, but the world may be different, because I was important in the life of a child.” – Forest E Witcraft




