Die voorgestelde tariefverhogings in die Drakenstein-munisipaliteit (Gouda, Paarl, Saron en Wellington) se konsepbegroting vir die 2022-’23- boekjaar is onredelik en onbekostigbaar terwyl basiese dienslewering steeds tekort skiet.

Die VF Plus verwelkom wel die feit dat eiendomsbelasting nie in hierdie boekjaar verhoog word nie aangesien dit verlede jaar weens die 19%-waardasieverhogings reeds met tussen 12 en 27% gestyg het.

In die lig van hierdie massiewe verhoging, wat vir die volgende vyf jaar geld, is die negatiewe dat eiendomsbelasting van volgende jaar af met ’n verdere 4,5% sal styg!

Die VF Plus is bekommerd oor die stygende salarisverhogings wat jaarliks deur Salga afgedwing word – 4,9% vir 2022-’23 buiten die normale verhoging van 2,4% vergeleke met die aanduiding van slegs 3% vir politieke ampsbekleërs en 3,9% vir gemiddelde werkende Suid-Afrikaners volgens statistieke, met in baie gevalle geen verhogings in die private sektor nie.

Die voorgestelde tariefverhogings is:. water: 6,9%. riolering: 6,9%. vullisverwydering: 7,5 % en. elektrisiteit: voorlopig 7,71%, onderhewig aan finale goedkeuring van Nersa.

Al die bogenoemde tariefverhogings oorskry die huidige inflasiekoers van die 2021-gemiddelde van 4,5% soos aangedui deur die nasionale tesourie as riglyn aan munisipaliteite – selfs ook die huidige markaanduidings van 5,7%.

Munisipaliteite is veronderstel om slegs as agent vir Eskom op te tree en nie munt te slaan uit kragverkope ten koste van die verbruiker nie.

Dit maak dit des te meer noodsaaklik om alternatiewe kragbronne, soos son- en windkrag, private sonpaneel-installasies deur belastingbetalers sonder tarief-inmenging deur munisipaliteite te ondersoek en te ontwikkel om die afhanklikheid aan Eskom te verminder.

Net soos met kragvoorsiening, moet daar ook op vernuwende wyse gekyk word na watervoorsiening en nie net gepraat word nie – veral weens die groot migrasie-instroming na Drakenstein.

Die VF Plus het reeds probeer om die Bergriver Development Corridor-konsep ter tafel te lê om konstante watervloei uit die Bergrivier teweeg te bring. Buiten vir water hou dit massiewe geleenthede in vir ontwikkeling, ekonomiese groei, werkskepping en toerismestimulering langs die Bergrivier.

Hoewel die tarief vir vullisverwydering verhoog, hoop vullis op en verwydering is weens swak beplanning en bestuur nie na wense nie.

Die rojale aanstelling van konsultante en kontrakteurs teen hoë salarisse terwyl die munisipaliteit reeds gekwalifiseerde amptenare het wat die werk kan doen, bly ook ’n bron van kommer.

Die VF Plus doen hiermee ’n beroep op gemeenskappe en nie-regeringsorganisasies om deel te neem aan die openbare deelnameproses wat gevolg moet word voordat die finale begroting deur die raad goedgekeur kan word.

Druk moet toegepas word vir ’n meer realistiese en billiker begroting.


André Fourie, voorsitter VF+ Drakenstein,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article