Die niewinsgewende organisasie Charleston Hill Action Group (Chag) het verlede jaar ’n Saterdagmark op die been gebring om dié gemeenskap ekonomies te bemagtig ná die slae van die pandemie.
Volgens Errol van der Hoeven, voorsitter van die Charleston Hill Saterdagmark-komitee, is die idee van die mark drie jaar gelede gebore op ’n vergadering van Chag. As gevolg van die pandemie kon die eerste markdag eers einde verlede jaar plaasvind.
“Op 27 Mei 2021 het ons ’n aansoek aan die munisipaliteit gerig. Daarna volg vele besprekings met munisipale amptenare asook met ons wyksraadslid. Ná ’n vergadering met ’n gesondheidsamptenaar van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, wat ons behoorlik ingelig het oor die higiëne-toestande waarin kos berei mag word, het ons gereël dat al ons kosverkopers aansoek doen om voldoeningsertifikate. Op 13 November 2021 hou ons, ons eerste markdag,” verduidelik Van der Hoeven.
Die markdag is ’n geleentheid vir plaaslike entrepreneurs en kunstenaars om hul produkte te verkoop en hul talente ten toon te stel. Daar is tans 32 stalletjies by die markdae. Die organiseerders poog om twee keer per maand die markdag te hou. Van der Hoeven sê stalletjiehouers betaal ’n minimale fooi aan die organisasie om die markdag se koste te dek. Hy maak dit ook duidelik dat die markdag nie net beperk is tot inwoners van Charleston Hill nie, en nooi ander entrepreneurs vanuit die breë Drakenstein om ook aan te sluit.
“Die Charleston Hill-Saterdagmark is gestig met die uitsluitlike doel om ons gemeenskap ekonomies te bemagtig. Die mark se onmiddellike invloed was ook die skep van ’n sin van gemeenskapsamehorigheid.”
’n Inwoner van Charleston Hill, wat nie by naam genoem wil word nie, voer aan dat die markdae onwettig is en dat die regte prosedures nie gevolg is nie.
Die persoon beweer ook dat daar ander inwoners is wat kla oor die geraas wat die markdag veroorsaak en dat Drakenstein-munisipaliteit glo “gunsies” verleen aan die organiseerders. Hy voeg ook by sy lys van bewerings dat die markdae sonder toestemming op munisipale grond in Mont Vue-laan plaasvind.
Dié bewerings is egter as onwaar bewys. Van der Hoeven het al die nodige bewyse rakende die wettigheid van die markdae aan Paarl Post verskaf, onder meer kommunikasie tussen die organiseerders en die munisipaliteit. Die ekonomiese groei- en toerisme-afdeling van die munisipaliteit het per e-pos aan die organiseerders gesê hulle ondersteun die inisiatief.
Voor die aanloop van die eerste markdag het Chag met die plaaslike verkeersdienste, die brandweer en die Kaapse Wynland- omgewingsgesondheidspraktisyn vergader. Voorwaardes wat by die markdae gehandhaaf moet word, is brandblussers, water, sand, ’n noodhulpkissie, ’n verkeersbestuursplan en Covid-19-regulasies.
In ’n e-pos-bewys het die munisipaliteit bevestig dat dit nie nodig is om ’n geleentheidsaansoek in te dien nie.
Daar word net van die organiseerders verwag om vooraf die munisipaliteit in kennis te stel wanneer die markdae sal plaasvind, en dat die naaste polisiekantoor in kennis gestel moet word.
In reaksie op die bewerings sê Van der Hoeven: “Dis hartseer dat mense uit ons eie gemeenskap afbreuk wil doen aan ware gemeenskap- en ekonomiese bemagtiging.”
Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste in Drakenstein, het by navraag gesê: “Die organiseerders van dié mark het geen skriftelike toestemming van Drakenstein-munisipaliteit vir die gebruik van die openbare ruimte nie. Hulle het wel aansoek gedoen vir die vorige markdag en dit is gehanteer op die grondslag van ’n geselligheid.”
Esau voeg by: “Daar was verlede week sprake van ’n nuwe markdag op die pas afgelope Saterdag, maar teen 24 Maart is geen aansoek ontvang nie. Indien die markdag voortgegaan het sonder toestemming, sou die munisipaliteit dit onwettig verklaar.”




