Die klubrugbyseisoen het skaars afgeskop en reeds heers twis oor die gebruiksregte vir rugbyvelde.

Die Violets-rugbyklub het die afgelope naweek sy groot ongelukkigheid uitgespreek nadat hy nie daarin kon slaag om ’n veld tot sy beskikking te kry nie. Volgens die Paarl-rugbykode was ’n rugbyveld by Dal Josafat vir Violets bespreek om ’n vriendskaplike wedstryd te speel.

Die veld is volgens hulle ook ná ’n vergadering deur die Drakenstein-munisipaliteit bevestig.

Violets is egter op die laaste oomblik ingelig hy kan weens ’n vooraf bespreekte krieket-wedstryd nie op die Dal speel nie.

Hierna het die rugbykode talle e-posse aan die betrokkenes by die munisipaliteit gestuur sodat die wedstryd na Boy Louw verskuif kon word, maar dit was tevergeefs.

Violets, wat verbonde is aan die Westelike Provinsie-rugbyunie, is toe Saterdagoggend na Boy Louw om die veld gereed te kry vir sy vriendskaplike wedstryd, net om deur die veiligheidswag weggewys te word – dit terwyl twee klubs, Mbekweni en Warriors, wat aan Boland-rugby verbonde is, toegelaat is om te speel.

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit het Violets geen bespreking gehad om Dal Josafat-stadion te gebruik nie en geen aansoek vir ’n permit is ingedien soos voorgeskryf nie.

Op ’n vergadering met die rugbykode verlede week is ooreengekom dat die rugbyklubs die velde vroeër kan beset – slegs vir oefening.

Die munisipaliteit het bygevoeg die Mbekweni-rugbyklub het ook nie ’n bespreking vir die Boy Louw-veld gehad nie, en hulle is hieroor ingelig.

Hulle het egter verkies om dit te verontagsaam en het op eie inisiatief voortgegaan om die veld te merk.

Boy Louw-velde se toesighouer het die situasie probeer keer en selfs hulp hieroor van munisipale wetstoepassings- en veiligheidsbeamptes gevra, maar Mbekweni het nie hieraan gehoor gegee nie.

Die munisipaliteit het hierdie voorval by Boland Rugby aangemeld, wat die saak teen Mbekweni sal ondersoek en probeer oplos.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article