Die 17-jarige tweeling Trevor van Eden Michelle van Eden.Foto: Verskaf


Michelle van Eden en haar tweelingbroer, Trevor – albei gr.11-leerders aan die Hoërskool Labori in die Paarl – het onderskeidelik die eerste en tweede plek in ’n nasionale vaardigheidskompetisie behaal, waar hulle teen die land se vooraanstaande konstruksie-en elektriese boffinsmeegeding het.

Die sibbe het aan die Sasol- en Kagiso Trust se interprovinsiale vaardigheidskompetisie deelgeneem nadat beide in die top-drie in die provinsiale ronde geëindig en daarna na die interprovinsiale ronde deurgedring het.

Michelle het aan die konstruksie-afdeling deelgeneem, waar sy die eerste plek behaal het, terwyl Trevor sy vaardighede in die kragstelsel-afdeling getoets en tweede geëindig het.

Volgens ’n mediaverklaring van die Sasol- en Kagiso Trust het 63 leerders, wat aan die provinsiale rondes in die Vrystaat, Gauteng, Wes-Kaap, Limpopo en Mpumalanga deelgeneem het, in vyf afdelings teen mekaar meegeding, naamlik sweiswerk, konstruksie, kragstelsels, loodgieterswerk en houtwerk.

Die eindronde van die kompetisie is by die Universiteit van Johannesburg se Doornfonteinkampus gehou, waar die wenners in elke afdeling sertifikate ontvang het, sowel as die jongste gereedskap en toerusting om hul vaardighede te bevorder, luidens die verklaring.

Volgens Trevor het een van sy onderwysers hom reeds in 2022 aan dié kompetisie bekendgestel, waaraan hy toe deelgeneem het, maar net op provinsiale vlak.

Vanjaar het hy weer ingeskryf, terwyl sy suster deur haar broer en ook haar onderwyser aangemoedig is om in te skryf.

“As ek my kop en hart in iets sit, dan sal ek goed doen,” het Michelle telefonies aan Paarl Post gesê.

Volgens dié konstruksie-boffin is “beplanning alles” en dra dit by tot ’n suksesvolle eindproduk.

Die sibbe verduidelik dat die kompetisie uit twee afdelings bestaan het, waarin hulle verskillende take moes verrig.

Volgens Trevor is dit in die eerste afdeling van hom verwag om ’n verdeelbord self aanmekaar te sit en te bedraad, terwyl sy tweede afdeling behels het dat hy die bord net bedraad.

Michelle verduidelik dat sy in die eerste afdeling ’n gemeenskaplike bindingsmuur met ’n kalkmengsel, wat sy self moes aanmaak, moes bou.

In die tweede afdeling moes sy weer eens ’n muur gebou het, maar dié keer sonder enige kalk- of sementmengsels.

Trevor sê hy is nie seker hoekom hy in die top-drie beland het nie, maar het wel verduidelik dat sy bord netjieser as ander deelnemers s’n was, en dat dit waarskynlik bygedra het tot sy tweede plek.

Ná die sukses wat die Van Eden-tweeling behaal het, kan hulle spog met ’n trofee vir Michelle, sowel as sertifikate, ’n “boks” met gereedskap én kontant vir albei.

Volgens Michelle gaan sy die geld spaar om vir haar ’n motorfiets te koop. Trevor sê hy sal dit vir ’n stokperdjie – rekenaarspeletjies en die sagte- en hardeware wat daarmee gepaard gaan – aanwend.

Trevor verduidelik dat hy ná skool “elektries” wil gaan studeer en sy kennis wil verbreed, terwyl Michelle “nog nie seker” is nie, maar wel in ’n “konstruksie-rigting” sal wil werk.

Volgens dié twee hardwerkende sibbe is hul gesin, die familie en vriende “baie trots” op hulle.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article