Twee verdagtes, waarvan een ’n buitelander, is Maandag (18 Julie) in hegtenis geneem vir die besit van ’n reusehoeveelheid gesteelde goedere.
Die mans is omstreeks 18:00 op ’n plaas in die Nieuwedrift-omgewing betrap nadat lede van die K9-eenheid in Kaapstad ’n wenk opgevolg het oor eiendom van ’n gekaapte vragmotor wat oorgeplaas is op ’n ander vragmotor wat aan die plaas in die Nieuwedrift-omgewing behoort.
Die vragmotor is vanaf die Strand-omgewing deur die K9-eenheid tot in die Paarl-omgewing gevolg waar dit daarna op die plaas voorgekeer is.
Toe die vragmotor deursoek is, is verskeie splinternuwe elektroniese toerusting soos yskaste, wasmasjiene en ongeveer 35 verskillende model-televisieskerms gevind ter waarde van der duisende rande.
Die verdagtes is in hegtenis geneem en sal in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde eiendom.
Die polisie ondersoek die moontlikheid dat hierdie voorval moontlik verband kan hou met die voortdurende vlaag van vragmotorkapings wat die Wes-Kaap die afgelope tyd geruk het.




