Inwoners van Fairyland staan tussen die puin wat deur ’n verwoestende brand agtergelaat is.


’n Verwoestende brand het Saterdag (18 Februarie) in die Paarl in die middernagtelike ure uitgebreek en sowat 30 gesinne dakloos gelaat.

Die vlammehel het ook die lewe van twee mense geëis.

Volgens die Drakenstein-plaaswag (DFW), ’n brandbestrydingsdiens sonder winsoogmerk, is hulle omstreeks 02:34 Saterdagoggend uitgeroep om die plaaslike brandweerdienste in Fairyland, waar die brand uitgebreek het, by te staan. Die brandbestryders wat reeds op die brand reageer het, het glo ’n watertoevoerprobleem ervaar, wat die inwoners ongelukkig gemaak het.

Die liggaam van een slagoffer is gevind terwyl brandbestryders deur die rommel beweeg het om die oorblywende vlamme te blus. Nadat die vlamme tot bedaring gebring is, is beamptes van die Paarl-Oos-polisie begelei na waar die lewelose liggaam aangetref is. Dit was nog meer traumaties vir inwoners en brandbestryders op die toneel toe ’n tweede slagoffer se liggaam ook gevind is.

Dit is nog nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.

Die Drakenstein-munisipaliteit het sy medelye Saterdag in ’n verklaring op Facebook met die families van die twee slagoffers wat in die brand gesterf het, gedeel. Die munisipaliteit het ook gesê hy sal ramphulp aan die gesinne wat geraak is, verskaf.

“Die munisipaliteit is besig om die gebied te assesseer om die omvang van die brand se skade te bepaal en maatreëls in te stel om die gebied so veilig as moontlik te maak,” lui die verklaring.

Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het bevestig dat speurders besig is met ’n geregtelike doodsondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article