Wellington het die afgelope naweek onder minstens twee misdaadgevalle deurgeloop toe ’n 55-jarige in Blignautstraat raakgeskiet is, en nog twee mans naby die Usave-inkopiesentrum met ’n mes gesteek is.
Al twee voorvalle het in Van Wyksvlei plaasgevind.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n woordvoerder vir die Wellington-polisie, is hulle die afgelope Sondag (3 Maart) om 00:45 na die misdaadtoneel in Bligauntstraat ontbied.
“Met ons aankoms het ons ’n man aangetref wat in die maag en skouer geskiet is. Iemand wou hom na bewering van sy motor beroof en hy is geskiet,” het Barkhuizen gesê.
Die slagoffer het die aanslag oorleef en die saak word tans ondersoek.
Tydens ’n tweede voorval die afgelope Saterdagmiddag (2 Maart) is twee mans naby die Usave-inkopiesentrum met ’n mes gesteek.
Volgens ’n betroubare bron het een van die slagoffers die Saterdagmiddag by die winkelsentrum gestaan waar iemand hom met ’n mes gesteek het.
Die slagoffer se vriend het hom toe kom help, waarna hy ook gesteek is.
Beide slagoffers het die voorval oorleef.
Geen klagtes is by die Wellington-polisie aangemeld nie, het Barkhuizen bevestig.
Volgens die anonieme bron is die Usave-inkopiesentrum in Dr. Abduraghman-straat ’n brandpunt waar sakeondernemings ook gereeld onder misdaad deurloop.
Weltevrede Fisheries is as voorbeeld gegee, terwyl die bron verduidelik het dat ’n groep kwaaddoeners gereeld die viswinkel teiken en daarmee wegkom weens ’n gebrek aan sekuriteit.
Volgens die bron veroorsaak dit paniek onder die res van die ondernemings, met verskeie – insluitend Weltevrede Fisheries – wat beoog om hul deure te sluit en hulle elders te hervestig.




