Twee verdagtes met ’n huisbraak-agenda het Dinsdagoggend die verkeerde plaashuis geteiken, aangesien hulle spoedig deur lede van die Drakenstein-plaaswag (DFW) vasgetrek is.

Daan van Leeuwen Boomkamp van die DFW sê die inbrekers het vroegoggend die diefwering van een van die DFW-vrywilligers se hek geknip om toegang tot die plaas op die Sonstraal-pad in Klein Drakenstein te kry.

“Die huiseienaar is ’n aktiewe vrywillige brandweerman, en gebruik die DFW se radio-netwerk. Toe die plaas se alarmstelsel die boewe se bewegings aandui, het hy dit via radio aangemeld en ons het blitsvinnig gereageer,” vertel van Leeuwen Boomkamp.

Die twee inbrekers het te voet gevlug, maar is deur die plaaswag en FADT-veiligheidsbeamptes vasgetrek voordat hulle die N1-hoofweg kon oorsteek.

Die Paarl-polisie is na die toneel ontbied om die verdagtes in hegtenis te neem. Kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagtes is deur die plaaswag en veiligheidswagte vasgetrek en deur die huiseienaar uitgewys.

“Die twee verdagtes het Woensdag in die Paarl-landdroshof op aanklag van poging tot huisbraak verskyn.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article