’n Vlammehel het Maandagmiddag twee gesinne van Steenkampstraat in Paarl-Oos se woning sowel as al hul kosbare besittings in die proses verwoes.
Die plaaslike brandweerdienste van die Drakenstein-munisipaliteit en die Drakenstein-plaaswag (DFW) is omstreeks 14:52 na die brand ontbied en het hand aan hand saamgewerk om die vlamme in bedwang te bring.
Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê: “Een groot informele woning in die agterplaas van ’n formele woning is deur die brand verwoes. Die formele woning het geringe brandskade opgedoen.”
Hy het verder bevestig twee gesinne het voor die brand in die informele woning gewoon.
Hoewel die woning tot op die grond afgebrand het, is geen beserings of lewensverlies aangemeld nie.
Esau het verder gesê die munisipaliteit het noodverligting aan die twee gesinne verskaf. Dit sluit kospakkies, komberse en toiletware in.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het verder bygevoeg dat geen misdaad in verband met die brand vermoed word nie. “Geen klagte is aangemeld nie – slegs ’n brandverslag is voltooi.”
. An inferno on Monday afternoon destroyed the home of two families from Steenkamp Street in Paarl East, and also all their precious possessions in the process.





