Twee middeljarige mans wat vandeesweek albei op aanklag van diefstal in die Paarl-landdroshof verskyn het, getuig van goeie waaksaamheid van plaaslike veiligheidsbeamptes.

In die een geval het ’n sakkeroller, Gerrit Baadjies (41), Maandag (22 Mei) in die hof verskyn vir die diefstal van ’n beursie en ’n klein sakkie uit ’n vrou se handsak.

“Daar word beweer dat die verdagte in ’n ry by die departement van arbeid se kantore gestaan ??het toe hy die items uit die handsak van ’n bejaarde vrou gesteel het,” vertel die polisiewoordvoerder kapt. Louise du Plessis.

“Toe die klaer hom konfronteer, het hy probeer om van die gebou af weg te hardloop, maar hy is toe deur ’n veiligheidsbeampte voorgekeer en is later deur die polisie in hegtenis geneem.”

In ’n onverwante voorval is nóg ’n verdagte, wat ’n ingenieursmaatskappy se besigheidskompleks in die Dal Josafat-omgewing binnegegaan en probeer het om ’n 10 kg-metaalplaat te steel, ook op heter daad betrap.

Du Plessis sê dié 30-jarige beskuldigde, Brendan Jansen, het ook Maandag in die landdroshof verskyn.

“Die beskuldigde, Brendan Jansen, het die perseel betree onder die voorwendsel om ’n kontrakwerker te wees, maar is gou deur ’n werknemer van die maatskappy voorgekeer. Die verdagte is daarna in hegtenis geneem toe hy gepoog het om die perseel met die metaalplaat te verlaat. Sowel Baadjies as Jansen het opgeskorte vonnisse gekry.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article