Boland Kavaliers se hoofafrigter, Franzel September, is vol vertroue in sy span wat Saterdag in die Eersteliga Curriebeker-eindstryd in Wellington speel. Foto:


Boland Kavaliers speel Saterdag 24 Junie om 13:00 in Boland-stadion in Wellington gasheer in ’n Eersteliga- Curriebeker-eindstryd teen die Valke Rugby-unie.

Die manne van Kemptonpark reis met baie selfvertroue na Wellington, nadat hulle Saterdag 17 Junie die SWD Arende van George in ’n Mzansi Uitdaag-eindstryd met 55-38 getroef het.

Die Eersteliga Curriebeker is ’n unieke kompetisie en bied baie meer vir rugby as net om die beker te wen. Tydens die kompetisie kry jong klubspelers die geleentheid om hul op hierdie vlak te toets. Self jong afrigters soos Boland-afrigters Franzel September en Morne Kutz kry die geleentheid om met meer ervare afrigters mee te ding.

Boland Rugby is die provinsie met die meeste klubs in Suid-Afrika en neem die voortou as dit kom by ontwikkeling van die sport.

Franzel is van mening dat sy troepe se kondisionering en voorbereiding beter is as vorige jare. Die Kavaliers het net een wedstryd in die eerste ronde en twee wedstryde in die tweede ronde van die Eersteliga-wedstryde verloor.

Daar is ’n goeie balans in die Boland-groep wat jeug en ervaring betref, en ook heelwat spelers wat gewys het hulle kan op hierdie vlak kompeteer.

Volgens Franzel was dit ’n gesamentlike bydrae van die span gedurende die seisoen.

Hy is ook vol lof vir die leierskap van Thurlow Marsh (kaptein) en Lunathi Nxele (onder-kaptein).

“Dis ’n mylpaal om in ’n tuis-eindstryd voor jou tuis-toeskouers te speel, ons weet hoe dit is om in Boland-stadion voor jou familie te speel, voeg September by.”

Hy sê ook die swaar reën en nat toestande bemoeilik hul voorbereiding, maar hulle is gereed en Franzel sê hy sien uit na sy eerste eindstryd as Boland-afrigter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article