Hoewel Martinette van Hansen, die kamstige “troubeplanner” van Malmesbury, glo ’n skikkingsooreenkoms met ’n Paarlse paartjie aangegaan het om die bykans R110 000 waarmee sy hulle ingeloop het, terug te betaal, wil die talle ander slagoffers nou weet of hulle ooit húl geld gaan sien – onder wie ’n bejaarde vrou van Malmesbury aan wie sy glo R220 000 vir huurgeld skuld.
Netwerk24 het verlede week berig Van Hansen het ooreengekom om Chané en Wernich Stander van die Paarl R110 000 terug te betaal nadat sy haar dienste as troubeplanner aangebied het en die paartjie etlike dae voor hul troue moes rondspring om alternatiewe reëlings te tref.
Die bruidspaar se familie het toe ingespring en self die onthaal behartig.
“Dit was ’n baie moeilike en emosionele besluit, want aan die een kant is jy kwaad, maar aan die ander kant wil jy ook nie net wraak neem nie. Ons het toe ingestem dat sy ons terugbetaal met spesifieke vereistes,” het Chané verlede week aan Netwerk24 gesê.
Paarl Post het ook onlangs berig oor ’n paartjie van Grabouw wat in 2018 in die week van hul troue moes rondval nadat Van Hansen nie meer op WhatsApp-boodskappe gereageer het nie.
Chrisli Smit en haar man het bykans R26 000 verloor nadat hul troue op 28 Julie 2018 by die Krabbefonteyn-onthaallokaal in Grabouw moes plaasvind.
Smit se ma, Margaret, het vandeesweek aan Paarl Post gesê hulle het tot nou toe geen terugvoering van die polisie in Grabouw ontvang nadat sy in Augustus 2018 ’n bedrogsaak aangemeld het nie.
“Ek dink ek het een of twee boodskappe gekry wat sê die saak word steeds ondersoek. Daarna was daar weer een wat gesê het die saak is gesluit – ek weet nie so mooi nie. Die polisie kon haar tot nou toe nie opspoor nie. Ek weet nie of hulle dalk gedink het bedrog is nie belangrik genoeg nie,” sê Smit se ma.
Intussen het Lewietscha Ryke, ’n bejaarde inwoner van Malmesbury, vandeesweek aan Paarl Post gesê Van Hansen se beweerde misdadigheid het nie by valse troubeplanning gestop nie. Sy vertel Van Hansen, haar man en vier kinders het glo in 2019 een van haar wooneenhede in Malmesbury begin huur.
“Haar stiefsuster het in daardie stadium ook hier in Malmesbury gewoon, en dis juis sy wat vir my gesê het Martinette en haar gesin is op soek na ’n plek. Omdat sy (die stiefsuster) altyd getrou betaal het, het ek dus nie gehuiwer om haar familie ook te help nie,” vertel Ryke.
Volgens Ryke was Van Hansen en haar gesin van ses se maandelikse huur R7 000.
Van Hansen het later só met haar huur begin agter raak dat sy glo in die eerste jaar alleen sowat R44 000 aan Ryke verskuldig was.
Ryke sê sy het Van Hansen selfs tegemoet probeer kom deur die maandelikse huur na R6 000 te verlaag.
Sy het ook so ver gegaan as om ’n koopkragmeter in Van Hansen se eenheid te installeer.
“Benewens al ons pogings om haar en haar gesin tegemoet te kom, was sy op die ou einde geheel en al ongeskik. Sy het altyd die lelikste woorde teenoor ’n mens geuiter en was verskriklik manipulerend.
“Boonop het hulle my plek bemors en verniel. Dit is toe ons besluit het om in Januarie 2021 ’n uitsettingsbevel te bekom,” sê Ryke.
Sy sê Van Hansen het ingestem om haar uitstaande skuld stelselmatig af te betaal. “Dit het baie druk en moeite van ons kant af vereis. Ek moes haar gereeld skriftelik herinner dat sy my moet betaal. Ons het later maar besluit om die hofgeding ook te laat vaar.
“Dit het my op die ou einde baie gekos om van regshulp gebruik te maak vir geld wat ek nie seker is aan my terugbesorg sal word nie.”
Volgens Ryke skuld Van Hansen haar altesaam R220 000.
Dit sluit die uitstaande huurgeld, regskoste en herstelwerk aan die wooneenheid in.
“Ek het nog nie weer van haar gehoor nie, maar ek sal graag wil sien dat sy boet vir haar dade.”
Paarl Post het by vorige navraag by die polisie in die provinsie bevestig dat Van Hansen amptelik op slegs drie aanklagte van bedrog aangekla is.
Kapt. FC van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die aanklagte word deur die polisiekantoor in Durbanville ondersoek.
’n Lasbrief vir Van Hansen se inhegtenisneming is op 24 Oktober uitgereik.





